Community

Northam Boerevereniging in volle vaart 

30 April 2021 · Platinum Bushvelder

Northam Boerevereniging in volle vaart 

Northam – Die werksaamhede van Northam Boerevereniging is weer in volle vaart vir 2021. Dít ten spyte van ‘n baie moeilike 2020 gekenmerk deur bek-en-klouseer en daarna COVID-19.

“Dit is met groot dankbaarheid vir die genade van ons Hemelse Vader wat ons deur hierdie moeilike tyd gedra en staande gehou het. Ook het Hy ons geseën met goeie reën in die bedieningsgebied. Die weiding is mooi en die wild- en veeboere kan met vertroue die winterseisoen ingaan,” aldus Northam Boerevereniging voorsitter Prof. Erasmus in ‘n onderhoud met Platinum Bushvelder. 

Die boerevereniging het gedurende die grendeltyd geleentheid gehad om die veilingkrale op te gradeer vir bio-sekerheid. Ongeag wetgewing en die eise van bek-en-klouseer, is dit ‘n noodsaaklikheid om die risiko te beheer, omdat daar twee veilings per week gehou word met ‘n groot hoeveelheid beeste uit ‘n wye gebied wat deur die krale beweeg. 

Veeartse ondersoek elke bees wat afgelaai word. Infrastruktuur is ook sodanig verander dat die protokol vir COVID-19 met elke veiling nagekom word. Daar was reeds inspeksie gehou - met groot sukses. Produsente ondersteun die veilings goed.

Northam Boereverening voorsitter Prof. Erasmus en sekretaresse Mari Meintjies.