Als wat ons is, is net genade [Skrywe aan die redakteur]
![Als wat ons is, is net genade [Skrywe aan die redakteur]](/img/articles/Ls-Koedoeskop-article-30-April-2021.jpg)
My passie was altyd om ‘n predikant te wees, in voltydse diens van die Here. Gevolglik het ek ‘n sterk sendingroeping gehad. Omdat ek relatief huisvas is, het my ouers ernstig gebid dat die Heer my sal lei oor my toekoms en roeping.
Onderwys, het soos ‘n boek oopgeval. Op 11-jarige ouderdom het ek my hart en lewe aan die Here oorgegee, nadat ek besef het, al is my pa ‘n predikant, hy my nie kan red van die ewige dood nie. Dit is slegs moontlik deur ‘n persoonlike verhouding met my Skepper en my Verlosser in my hart. Daarom die passie en brand in my hart om by ‘n laerskool te arbei vir die Heer en Geestelike saad te saai, meer spesifiek in die Intermediêre-fase. Buig die boompie terwyl hy nog jonk is.
My vrou Elmé kry die volgende skrif: ‘En die Here het aan Jakob gesê: Gaan terug na die land van jou vaders en na jou familie; en Ek sal met jou wees.’ – Genesis 31:3.
Elmé se pa het as seun so net meer as 50 jaar terug in dieselfde huis gewoon as waarin ons nou woon. Oupa Japie van der Merwe was vir drie jaar ‘n onderwyser by Laerskool Koedoeskop. Een Sondag oggend was ons laat vir die EGK Wonderboom diens en so draai ons toe in by die eerste kerk wat ons teëkom. Die pastoor maak toe die Skriflesing uit Psalm 23 bekend. Die Heer salf op daardie oomblik my oë – amper soos Saulus op pad na Damaskus en ek sien die ‘waters van rus’.
Na vele jare se ondervinding by die verskeie skole is ek nou al vyf jaar by Laerskool Koedoeskop. Minder hande, maar dieselfde take en vakke. Onder leiding van Mnr Gustav Grobler en sy gesin, het ek vreeslik baie geleer. Aan die Koedoe-wenspan, die personeel... julle is die beste! Ons pragtige Koedoe leerders is ons grootste prioriteit. Dankie aan elke ouer se ondersteuning, raad, en bydrae om van ons unieke skool steeds ‘n suksesvolle opvoedkundige instansie te maak, ‘n baken van hoop.
Koedoe groete,
Laerskool Koedoeskop hoof
Zarius Janse van Rensburg
