Community

Nash kry ‘n tweede kans

25 May 2021 · Platinum Bushvelder

Nash kry ‘n tweede kans

Setaria – Vrywilliger en Setaria Safe Haven opsigter Christelle Steenkamp was op Donderdag 6 Mei op pad huistoe toe sy op ‘n beseerde Pit Bull afkom. 

Sy het skaars gestop, toe is die eienaar van die woef byderhand en verduidelik dat die Pit Bull meermale vir hom ‘n uitkomplekkie soek en homself gereeld beseer in die proses. Hy het vir Christelle gesê dat sy Nash kon neem sou sy wou, want hy kan nie ‘n ander plan sien nie.
 
Christelle het nie op haar laat wag nie en terstond vir Nash ingelaai onderweg na Yolene Claassens – haar vriendin. Yolene het ook sommer daar en dan besluit dat sy Nash aanneem. Volgende stop was Kransberg Dierekliniek.Die gemeenskap het ook ingespring om finansieel by te staan vir sy behandeling, en kort voor lank was Nash onder mikroskoop. 

“Diere kan nie vir hulself praat nie en daarom het hulle mense nodig om vir hulle op te staan. Ek is so dankbaar dat ek deel kon wees om vir Nash ‘n tweede kans te gee,” het Christelle in ‘n onderhoud gesê aan Platinum Bushvelder. Nash is op 11 Mei ontslaan en dit gaan baie goed met hom by sy nuwe tuiste. 

Voor: Nash het ‘n ernstige besering op sy been opgedoen.
Na: Nash sterk goed aan.