Community

Kry ons kinders Covid-19 by die skool? [Skrywe aan die redakteur] 

28 May 2021 · Platinum Bushvelder

Kry ons kinders Covid-19 by die skool? [Skrywe aan die redakteur] 

Was jou handjies, dra jou masker heeldag, en moenie jou juffie of maatjies ‘n drukkie gee nie – want jy kan só doodgaan... Wat ‘n boodskap om vir ons kinders te leer! 
As ‘n mamma is ek elke oomblik slaggereed om my kind te beskerm, maar die oomblik as sy lyfie deur die skoolhekke glip, is my beheer weg. As ek heeldag sy handjie kon vashou en seker maak dat hy nie siek raak nie, het ek. 
Covid-19 is geen grap nie – ek het al vriende aan die pandemie afgestaan. As jy nog nie gehoor het hoe ‘n stem klink wat huig na asem nie, sal jy seker maar aanhou dink dat dié siekte nooit sy kloue in jou sal slaan nie. 
Ek is bang. 
Statistieke toon dat kinders nie so maklik aansteek of siek raak nie, maar statistieke verander elke dag, die gogga muteer so gereeld. Hoe kan ek my kind se veiligheid verseker?  
Gerugte het sy gang geloop dat Laerskool Thabazimbi se personeellede Covid-19 positief is. Die gerugte pop elke nou en dan op. Die gerugte is omskep na ‘n omsendbrief op 9 Mei... “Hiermee bring ons dit onder u aandag dat daar vier van Laerskool Thabazimbi se personeellede tans positief getoets het vir Covid-19.” Op 10 Mei het die brief aangedui dat die getal toegeneem het na 5. 
Winter het begin. My seun het vandeesweek gesê sy keel is seer... wat is ‘n mamma te doen? 
En elke klein maatjie gaan huistoe, beweeg tussen almal in liefde, en mammas en pappas gaan werk toe, doen inkopies ensovoorts. Dis onmoontlik om te sê waar ons kleingoed die virus opdoen – maar dit maak nie die vrees makliker nie. 
Al wat ek kan doen is om my knieë te gaan en te vra: “Here, beskerm ons kinders en hou Jou hand oor hulle. Hou hulle veilig, veral wanneer ons nie self kan nie. Maak asseblief ons harte rustig, wees saam die onderwysers wat positief getoets het, want in ons klein dorp ken ons mekaar meestal almal op die naam. Ons is lief vir onse mense. Ons onderwysers is puik en ons het hulle nodig.” 
Bekommerde Mamma