Community

Wat is beter as ‘n boek en koffie?

4 June 2021 · Platinum Bushvelder

Wat is beter as ‘n boek en koffie?

Northam – Aitsa! Catelyne Coetzee is ‘n 18-jarige matrikulant wat haar eie besigheid geopen het op Dinsdag 4 Mei, genaamd Boekkekoffie. Sy sê die ekstra klinker is net vir pret. “Ek is deur ‘n vriendin geinspireer wat haar pa gehelp het om koffie te verkoop uit hul ‘koffie waentjie’. Daar het die gogga gebyt! Ek voel daar is ‘n mark vir dié tipe besigheid in Northam,” aldus Catelyne.
Catelyne is dankbaar teenoor haar ouers vir hul ondersteuning. Die aspirante jonge dame bak alles in die winkel self en tussendeur is sy ook nog besig met haar skoolwerk. Soggens het sy al ‘n klompie werk afgehandel lank voor die son begin water trek. Sy werk verbete om op datum te bly met haar studies. “My droom is dat my besigheid ‘n kettingwinkel word, ‘n naam op almal se lippe.”
Die gesellige koffiewinkel het ‘n rustige atmosfeer waar jy kan wegbreek, rustig raak, en neus-in-‘n-boek wegval. Daar is ook konferensie fasiliteite waar jou personeel vergaderings kan hou. 
Besoek Boekkekoffie by Haffsons Centre, winkel 98, eerste vloer, Botha straat, Northam – kom lees ‘n boek, drink ‘n koppie koffie, en geniet nog ‘n versnapering daarby.

Boekkekoffie eienaar Catelyne Coetzee