Community

Gemsbok deurboor beroepsjagter

11 June 2021 · Platinum Bushvelder

Gemsbok deurboor beroepsjagter

Thabazimbi – Beroepsjagter Marco Schoonwinkel is op Sondag 6 Junie op ‘n jagplaas buite Thabazimbi deur ‘n gemsbok deurboor.


Marco was besig om gemsbokke van een kamp na ‘n ander te skuif toe een van die gemsbokke op hom afgestorm het. Die gemsbok het ‘n ander persoon skrams getref maar het Marco 2cm onder sy naeltjie met ‘n horing deurboor tot teenaan sy rugstring. ‘n Hoofslagaar is raakgetref en sy kolon is geskeur wat interne bloeding veroorsaak het. 


Die eienaar van die plaas, Pieter Potgieter, het ‘n oproep ontvang oor die insident en dadelik sy seun gestuur wat Marco te hulp gesnel het in die veld. Terwyl hy noodhulp op Marco toegepas het, is ‘n helikopter intussen ontbied om Marco te kom haal.

Hulle het gepoog om die helikopter halfpad te kry, maar Marco het té seer gehad om met die bakkie vervoer te word. Marco is per helikopter na Mediclinic Thabazimbi geneem waar hy toe gestabiliseer is, waarna hy toe oorgeplaas is na ‘n hospitaal te Pretoria. 


Marco het Sondagmiddag sy eerste noodoperasie van vier ure lank ondergaan om interne bloeding te stop. Later die aand moes hy ‘n tweede drie uur lange operasie ondergaan.

“Marco is steeds in hoë sorg, maar hy is wakker. Hy kan sy bene en tone beweeg, maar het geen gevoel nie,” aldus Pieter. “Dit is voorwaar ‘n wonderwerk dat Marco die noue ontkoming oorleef het. As die horing 2cm boontoe ingesteek het, was hierdie prentjie baie donkerder.

Baie dankie aan die gemeenskap, en selfs al die buitelandse jagters vir jul ondersteuning – en ‘n groot dank vir die duisende gebede wat uitgaan aan Marco.” Marco is die pa van ‘n drie-jarige en sy vrou is tans vyf maande swanger.

‘n Gemsbok.
Beroepsjagter Marco Schoonwinkel is op ‘n jagplaas buite Thabazimbi deur ‘n gemsbokhoring deurboor.