Community

In Remembrance

18 June 2021 · Platinum Bushvelder

In Remembrance

Laaste eerbetoon: Kaptein Henry Visagie

Rustenburg/ Northam/ Thabazimbi – Henry Visagie is in Zeerust gebore en het in Northam grootgeword waar sy pa die stasiekommissaris van die polisie was. 


Uiteraard het dié jong seun baie by sy pa geleer van dissipline, asook die belangrikheid van diens aan die gemeenskap. Henry het in 1978 gematrikuleer aan die Hoërskool Frikkie Meyer, Thabazimbi, en het op 1 Desember 1978 by die polisie aangesluit.

Hy het 36 jaar ononderbroke diens gehad en was bemind onder almal met wie sy pad gekruis het. In 1991 is hy bevorder tot die rang van sersant en in 1994 tot die rang van adjudant offisier. Hy word bevorder tot die rang van kaptein gedurende 2009 en behou hierdie rang tot hy op 30 Junie 2015 uit die SAPD bedank. Hy was ‘n alombekende en geliefde offisier, wat meestal in Phokeng en Rustenburg gestasioneer was.  


Hy was die voormalige ‘kantienmeester’ in Rustenburg en het na-ure heerlik sosiaal verkeer saam met polisie-kollegas en lede van die publiek vir ‘n tydperk van vier jaar. Hy was ook deel van die bestuur van die ‘Teeninsurgensie (TIN) Eenheid Veterane’ se komitee en het ‘n waardevolle inset gelewer om hierdie trotse eenheid se herinneringe te laat voortleef.  


Henry het as jong konstabel reeds vroeg sy staal gewys. Na voltooiing van sy kollege opleiding het hy kursusse in teeninsurgensie, “SWAT”, vuurwapenopleiding, stelselbestuur en bestuur en instandhouding van swaarvoertuie suksesvol deurloop. Hy het vroeg reeds belangstelling en aanleg getoon in logistieke administrasie en homself hierin bekwaam.

Hy was welbekend as die ‘moeilike’ man wat nie sou skroom om die wêreld vir polisielede moeilik te maak indien hulle nie kon verduidelik waar hul toerusting, vuurwapens, en uniformstukke was nie.  
Henry was georganiseerd, doelgerig, rekenaargeletterd en uiters pligsgetrou.

Dit is dan ook nie vreemd dat hy tydens inspeksies en wanneer ‘n oudit gedoen is, 100% verslag kon doen oor vuurwapens onder sy beheer nie. Hy was ‘n trotse polisieoffisier wat nie sou skroom om insette te lewer ter verbetering van die dienslewering van die Suid Afrikaanse Polisie Diens (SAPD) nie.  


Henry was ‘n unieke mens met deernis en respek vir diegene wat daagliks sy pad gekruis het. Hy was ‘n geliefde gesinsman, wat deur sy vrou, Hannelie Redelinghuys liefdevol beskryf word as haar Lovey van die afgelope 17 jaar. Hierdie troetelnaampie word selfs deur sommige van sy agt kleinkinders gebruik wanneer hul na Oupa verwys.     


Baie polisielede ken hom as ‘Fish’ – vanweë sy van Visagie. Hy was ‘n uiters bekwame skut en het groot respek op die skietbaan afgedwing wanneer hy ‘n wapen in die hand geneem het. Hy was die trotse pa van drie biologiese dogters uit ‘n eerste huwelik met Anita Visagie, naamlik Natalie, getroud met Cliff, en Doreen en Anita. Hannelie se kinders, Pieter en Carla, Marelize en Willem, asook Tanya en Eben was baie lief vir Henry en hul het wonderlike tye as ‘n familie geken.  


Henry was uiters skeppend en kunstig en sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Hy was lewenslustig, spitsvondig en ‘n regte terggees. Hy het nie gehuiwer om enige geleentheid in ‘n partytjie te omskep nie en was vreeslik lief vir musiek. Hy het menige persone laat skrik met sy welbekende hondeblaf-geluid wat hy graag geuiter het om mense op hol te jaag. Wanneer hul vererg omgevlieg het, het hy gewoonlik geskater van die lag.    


Na sy bedanking uit die SAPD het Henry hom besig gehou met algemene instandhouding en het hy ‘n heerlike tuiste vir hom, Hannelie en die familie geskep op hul kleinhoewe in die Dinie Estates omgewing. Henry was veral erg oor sy Boerboel ‘Visagie’ en het geboer met ganse, hase, visse, skilpaaie, en hoenders. Hy het steeds sy tyd tot beskikking van die polisie en gemeenskap gestel en was altyd beskikbaar om met landelike beveiliging te help.

 
Hannelie en Henry was reeds sedert 2004 in ‘n verhouding, maar sy onthou hoe hul op 5 Februarie 2011 besluit het om, op haar vyftigste verjaardag ook sommer in die huwelik te tree. Dit was ‘n spesiale en glansryke geleentheid waaraan Henry ure se beplanning spandeer het. Hul resep vir ‘n gelukkige huwelik was wedersydse respek, betrokkenheid, en waardering vir mekaar.  


Hy was op sy gelukkigste as hy kon video’s en foto’s neem.  Die SAPD se Lugvleuel van Potchefstroom was daardie betrokke dag in die omgewing en het ‘n spesiale verbyvlug en landing uitgevoer. Henry het ‘n spesiale band met die vlieëniers en boordbemanning gehad en het geen geleentheid laat verbygaan om saam met hul aan misdaadvoorkomingsoperasies deel te neem nie.

Hy was ‘n wonderlike leermeester en het met groot geduld talle polisielede opgelei en hul kennis van polisiewerksaamhede uitgebrei.  


Henry was sonder pretensie en het altyd gesê: “What  you see, is what you get”. Met sy bedanking uit die polisie het hy hartseer verklaar dat hy nie voorsien dat hy ‘n lang aftrede sou hê nie. Juis daarom het hy in oorvloed gelewe en het hy elke dag as ‘n geskenk van die Skepper ervaar. 
Ons groet ‘n “Groot Gees” vanuit ons Polisie geledere. Sy erfenis van omgee, dissipline, en trots sal vir ewig voortleef.

Liefdevolle herinneringe
Elsabe Augoustides

Joey Koekemoer, moeder van Hannes Koekemoer vir wie ons laas week aan die dood afgestaan het, is op Woensdag 9 Junie oorlede.


Joey (ene Vermaak) is op 4 Februarie 1951 gebore. Joey het haar skoolloopbaan in Pretoria voltooi en is op die ouderdom van 26 getroud met Dirk Koekemoer. In 1978 het hulle besluit om Thabazimbi toe te verhuis waar Dirk begin werk het. Joey het na ‘n paar jaar gimnastiek afgerig, sy het haarself opgewerk en al baie kinders van Thabazimbi onder haar hande gehad. 


Joey het ook vir aflos tye en self lang tye by Thabazimbi se biblioteek gewerk; sy het vir ‘n ruk die kiosk by die myn bestuur en self daar kos gemaak. Sy was veral bekend vir die lekker vars vetkoek wat sy elke dag gebak het.


Dirk en Joey het in 1998 Bosveld Paneelkloppers begin waarby wyle Hannes Koekemoer as vakleerling gewerk het. Na Dirk se dood het sy en Hannes die besigheid oorgevat en dit gebou tot wat dit vandag is.


Joey laat haar twee dogters Josine Hoffman en Annetjie Fourie met hulle mans en kinders agter, asook Hannes se twee kinders. Joey was ook vir baie jare deel van die Vroue Landbou Une Zonneblom-tak en sal beslis gemis word deur elke persoon wie haar geken het.

 

Lizzie Wilkinson van Thabazimbi is op Vrydag 4 Junie op die ouderdom van 76 jaar oorlede met haar familie aan haar sy. Ouma Lizzie is gebore op 22 Julie 1944 en het grootgeword en oud geword op die Buffelshoeks plaas buite Thabazimbi.

Sy was ‘n liefdevolle eggenote en beste vriendin vir haar man Billy Wilkinson met wie sy 56 jaar getroud was. Sy was ‘n moeder van drie kinders; Tokkie Swanepoel, Alfred Wilkinson en Elizebeth-Ann Bisschoff – asook soos ‘n moeder vir die res van die familie. Sy was ‘n dierbare ouma vir vele kleinkinders en agter kleinkinders.

Ouma Lizzie sal onthou word as ‘n vrou wat altyd besorgd was oor haar geliefdes en ander. Sy kon meeste van die tyd gevind word agter die koolstoof waar sy gebak en gebrou het vir almal waarvoor sy omgegee het. Sy sou jou altyd verwelkom het met ‘n warm hart, koekies en tee reg vir die skink.

Sy het nooit dorp toe gekom sonder ‘n besoek aan iemand met ‘n bederfie nie, en sal onthou word as die vriendelike tannie met die silwer hare en kierie in die hand. Sjokoladekoek en melktert was verjaardag persente.

Familie en liefde was Ouma Lizzie se prioriteit. Sy was geliefd en die wat haar geken het sal al die goeie herinneringe saam met haar koester.

 

Slegs drie dae na sy 40ste verjaarsdag is Rudolf Johannes Labuschagne (Rudi) van Thabazimbi op Woensdag 9 Junie oorlede.

Hy was ‘n nederige, fantastiese mens en sal onthou word as saggeaard en vrygewig. Rudi was eerlik, lojaal, en baie slim met rekenaars. Sy suster se kinders was sy hart se punt. Rudi se begrafnisdiens sal plaasvind by Aasvoëlkrans buite Rustenburg op 19 Junie.

 

Hartsvriendin, moeder, ouma, en eggenote Gesina Alette Röhrbeck is op Saterdag 12 Junie oorlede. Sy het vir jare die naaldwerkwinkel in Thabazimbi besit ek was deel van die Vroue Landbou Unie (VLU) Zonneblom-tak.

Die VLU Zonneblom het ‘n spesiale boodskap gedeel na haar afsterwe:
Ons by die VLU Zonneblom-tak is vandag oortuig daarvan dat Spreuke 31 vers 10 spesiaal vir jou geskryf is. Met ongelooflike dankbaarheid onthou ons vandag elke kosbare oomblik wat ons die voorreg gehad het om ‘n pad met ‘n kosbare Engel te kon stap.

Ons dank ons Hemelse Vader vir die liefde, vreugde, en lig wat jy in ons lewens gebring het. Kosbare herinneringe sal jou vir ewig in ons harte hou terwyl jy nou saam met die Engele dans en by Jesus se voete rus. Ons gaan jou ongelooflik baie mis.


Rus sag, kosbare Koningskind.