Posduifklub kampioen!

Thabazimbi – Die jaar 2020 het stil afgesluit vir Thabazimbi Posduifklub, maar die nuwe wedvlugseisoen het met groot entoesiasme afgeskop. Een van die hoogtepunte vir elke wedvlugseisoen is die kroning van die klubkampioen.
Die goeie tradisie leef voort en ‘n hartlike gelukwensing kom Rassie Erasmus toe, wat met die eerste prys vir 2020 weggestap het.
Rassie het in 1972 saam met sy pa in Uitenhage begin duiwe vlieg. In 1990 het hy alleen sy eie hok behartig, en na vyf jaar se vlieg van Theunissen na Virginia verhuis. Daar het hy met groot sukses aan wedvlugduiwesport deelgeneem. In 2007 het hy sy wortels geanker in Thabazimbi en twee jaar later weer hier aan duiwesport begin deelneem. Sy duif N1 17-1642517 is beslis sy trots.
Dit is een van sy sewe ingevoerde Harco Poelman duiwe vanuit Nederland. Hierdie betrokke duif se kinders het vir hom al gereeld ‘n wen gevlieg wat ‘n duidelike teken is at hulle goed aangepas het in die Bosveld.
Sonder om groot geheime uit die mou te laat, sê die 2020 kampioen slegs dat hy en sy duiwe ‘n besondere band het. Vir hom is niks te duur of te veel moeite as dit by sy duiwe kom nie. In sy woorde:
“My duiwe voel my teenwoordigheid en ons is een span. Duiwe is wat ek is, en daarsonder sal ek baie ongelukkig wees.”
Terloops – Rassie het ook laas jaar 9e in die SlIM (Sentraal Limpopo) Unie geëindig, wat ‘n besonderse prestasies is. Baie geluk AD Erasmus en Seun!
