Currie Beker 2021

Lions vs WP
Die Leeus verras vriend, vyand en die meeste, die Kapenaars. Na die onverwagse pakslae teen die Pumas, het die kopdokter van Brakpan weer toegeslaan om leeu se kind weer brul te kom gee, ou grote. Die Leeus wen 38-32 met ‘n wedstryd wat deur die Leeus oorheers is.
Die telling lyk na ‘n close affêre maar die twee geelkaarte aan die Jo’burgers in die laaste twaalf minute het die WP kans gegee om terug te kom in die game. Well done Lions, julle het ware karakter gewys!
Bulls vs Pumas
Die Bulle moes baie hard baklei om die moedige Pumas met 32-27 die loef af te steek. Bra Jake kon darem seker bietjie beter slaap na sy nare droom... Gelukkig vir die outjies in Blou was die hardebaarde weer terug van hulle Italiaanse nagmerrie.
Die impakspelers van die Bulle het hulle in die game gehou. Die Northam yster, Sidney Tobias, het ook sy debuut vir die Bulle gemaak en sal hopelik in die volgende games meer speeltyd gegun word. Hy is die regte man om die pap dik aan te maak. Vir die Bulle is daar slegte nuus oor Gio Aplon wat sy debuut gemaak het.
Aplon het ‘n baie ernstige kniebesering opgedoen wat waarskynlik die einde van hierdie uiters begaafde speler se loopbaan kan beteken. Aplon is ook al aan die verkeerde kant van dertig en dit sal wys wees om maar die stewels op te hang of op te veil.
Griekwas vs Cheetahs
Die Poubloues daag vir ‘n verandering op in Kimberley en verniel die Blikore ou grote. Die Griekwas wen hierdie game op ‘n klipharde veld met 31-10. Ter versagting aan die Cheetahs, was die feit dat minstens vyftien outjies in hulle debuut game opgedraf het. Wat wel goed was in die Cheetah se droewige dag, was die debuut van die gewese Blou Bul en Springbok losvoorspeler, Jacques Potgieter.
Pottie het baie goed vertoon in sy eerste game in maande. Die Vrystaat span was die verkeerde soort positief en as gevolg van Covid-19 is 30 Junie se wedstryd tussen die Bulle en die Cheetahs vir eers uitgestel.
