Britse en Ierse Leeus vs Japan

Die langverwagte Leeu-toer skop dan af op Murrayfield met ‘n toets teen Japan. Die geskiedenisboeke word dan behoorlik op datum gebring. Dit was die Leeus se eerste keer in ‘n toets op Murrayfield in Edinburgh, Skotland.
Dan was dit ook die eerste keer dat Japan die eer gegun was om teen die Britse en Ierse Leeus in ‘n toets te kon meeding. Die Leeus het verbasend goed vir die eerste keer as ‘n span saamgespeel en klop die moedige Japanners 28-10. Vir Japan het die twee Suid Afrikaners, Lappies Labuschagné en Wimpie van der Walt die Leeus besig gehou. Hierdie is twee ysters ouens! Vir die Leeus het Dan Biggar op losskakel puik gespeel en is ook as die speler van die toets aangewys.
Vir die Leeus was dit ook ‘n groot dag vir Duhan van der Merwe, Suid Afrikaanse seun, wat sy debuut vroeër vanjaar vir Skotland gemaak het om in sy eerste toets as ‘n Leeu ook ‘n puik drie aan te teken. Vir die Leeus was daar egter ‘n geweldige terugslag.
Die trotse kaptein Alun Wyn Jones was net na sewe minute van die veld afgelei deur die mediese span. Jones het sy skouer beseer en sal ongelukkig nie die toer na Suid-Afrika kan meemaak nie. Dit moet hartverskeurend vir hierdie reus van ‘n speler wees om nie saam met die span op die vliegtuig te kon klim nie.
Warren Gatland het nie geskroom om vir ‘n groot verrassing te sorg nie, en wys Munster en Ierland se skrumskakel Conor Murray, toe bó Owen Farrell, aan as cappie van die toer. Dit is Gatland se derde toer as breier van die Leeus. Hierdie Nieu-Seelander dwing regoor die wêreld respek af as coach.
Die Leeus se toer skop af op Saterdag 3 Julie om 18:00 in Jo’burg teen die Xerox Lions.
Op Woensdag 7 Julie om 20:00 speel die Leeus teen die Sharks in Durban en op Saterdag 10 Julie om 18:00 teen die Bulle op Fort Loftus.
Geen toeskouers sal toegelaat word om hierdie toer in die stadions te sien gebeur nie, maar duisende rugga-mal mense gaan groot gaan... beperkings en al! Mag hierdie Britse en Ierse Leeus hard brul in Suid-Afrika om lank onthou te kan word!
Na twintig maande draf die Springbokke Vrydagaand op Loftus om 18:00 teen Georgia uit in die eerste van twee toetse. Die tweede toets teen Georgia word op 9 Julie in Johannesburg gespeel. Rassie en kie sal die toetse gebruik om te bou vir die Bokspan wat in die eerste toets op 24 Julie teen die magtige Britse en Ierse Leeus op die Kaapstad Stadion gaan uitdraf. Nag ou groene...
