Community

In remembrance

2 July 2021 · Platinum Bushvelder

In remembrance

Daniel Hendrik Vos, meer bekend as Danie, is op Woensdag 9 Junie oorlede. Hy los ‘n groot leemte in die Thabazimbi gemeenskap. Hy was bekend vir sy glimlag en het kliente van sy besigheid, Kransberg Wapens, soos vriende behandel.


Danie was lief daarvoor om stories te deel en almal het altyd aan sy lippe gehang wanneer hy staaltjies oor die verlede vertel het. Vir sy familie was hy ‘n rots, ‘n vriend, ‘n seun en sielsgenoot. Sy afskeidsdiens het op 17 Junie plaasgevind vanuit die AP Kerk Thabazimbi.

Jarelange Thabazimbi inwoner, Billy Wilkinson (gebore 12 Mei 1942), is op die ouderdom van 79 jaar oorlede op Donderdag 17 Junie. Na slegs twee weke voldoen hy in sy belofte aan sy geliefde 56-jare lange lewensmaat, Lizzy Wilkinson, om spoedig weer met haar te herenig in ons hemelse ewigheid.

 
Geliefde Oupagrootjie van twee, Oupa van vier, en heel beste Pa laat hy sy drie kinders; Tokkie Swanepoel, Alfred Wilkinson en Elizebeth-Ann Bisschoff met hul eggenote en ander familie agter ... met kosbare herinneringe. 


Billy was van die eerste Yskor werkers op Thabazimbi en het daarna op Swartklip en Amandelbult ook diep spore in die myn gemeenskap getrap. Na sy aftrede het hy en Lizzy op die plaas, Buffelshoek buite Thabazimbi, hulself uitgeleef in hul liefde vir die plaaslewe en diere. 


Billy het positief geleef en sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie, in die motorhuis, veld of tot in die kombuis saam met Ouma aan die kook of bak om iemand te bederf. Billy sal onthou word as ‘n hardwerkende man wat enige uitdaging met ‘n glimlag aangepak het... en dit altyd met sy bekende fluit-fluit stappie. 


Hy was altyd bereid om te help en kon enige iets wat stukkend was weer reg maak. In sy rol as eggenote was hy voorwaar ‘n merkwaardige voorbeeld aan almal wat hom geken het en altyd aan Lizzy sy vrou, se sy. Die familie en hul sekuriteit was Oupa Billy se laaste kommer voor hy totsiens gesê het. Ons almal groet hom met liefde en het net goeie herinneringe om te koester.