Community

In Remembrance

6 August 2021 · Platinum Bushvelder

In Remembrance

Hoe neem mens afskeid van ‘n man, kort van postuur maar uiters groot van hart en daad? Johan Young, ‘n man van inbors en ‘n legende in ons gemeenskap, is op Dinsdag 27 Julie tragies oorlede. Alhoewel hy hom op die veiligheid van sy gemeenskap toegespits het, het sy vrou, kinders en familie altyd eerste gekom.

Hy is in Rustenburg gebore, maar het in Northam grootgeword en diep spore in hierdie geliefde wêreld van hom getrap! Marieta Young was vir die laaste 11 jaar, waarvan hul vir sewe jaar getroud was, die liefde van sy lewe.

Haar boodskap aan hom lui: “Ai my ding, jy het altyd alles ten koste van jouself gedoen. Jy was soms moeilik om mee saam te lewe, altyd maklik om mee te kuier, ‘n man wat geliefd was onder almal, ons gaan jou mis; jy sal altyd die liefde van my lewe bly.” Johan was baie jare deel van die Northam Boerevereniging. Hy en sy gesin het op die plaas Kameelhoek in Northam gewoon.

Vir ses jaar het Johan op die Northam Boerevereniging se dagbestuur gedien as kommoditeitsvoorsitter, veiligheidsverteenwoordiger. Sy portefeulje het ingesluit: misdaad, plaasaanvalle, reserviste, opleiding en rampsbestuur. Laerskool Koedoeskop, waarvan Mnr Zarius Jansen van Rensburg hoof is, het ook ‘n gedenkdiens vir Johan gehou op 30 Julie. Zak, Johan se jongste seun is ‘n Graad 3 leerling by hierdie gemeenskapskool.

Johan was aktief betrokke by die Heritage Protection Group (HPG). In ‘n spesiale boodskap van die HPG af het hulle gesê: “HPG gaan jou betrokkenheid in misdaadvoorkoming geweldig mis. Jou bereidwilligheid om te help het nooit ongesiens verby gegaan nie. Jou plek in ons HPG familie gaan nou leeg staan. Jou grappe en stories sal altyd onthou word.”

Baie huldeblyke het ingestroom vir Johan. Wat soos ‘n paal bo water staan, was sy liefde vir sy gemeenskap, sy bereidwilligheid om altyd hand by te sit en te help en om die hele gemeenskap saam met sy medeboere en HPG lede te beveilig. Johan laat sy vrou en twee kinders Marshawne en Zak agter. 

 

Die roudiens van wyle Johan Olivier (60), oorlede op Saterdag 31 Julie, vind plaas op 7 Augustus. As gevolg van Covid-19 is plekke beperk en kan bywoning slegs op uitnodiging geskied.

U word ook versoek om indien u nie 100% gesond is nie, ‘n uitnodiging van die hand te wys. Vir meer navrae skakel Cobus op 081 379 8919 of Wilna op 074 200 2687 by Econo Begrafnisdienste. ‘n Diens met liefde en waardigheid deur Econo Begrafnis en Verassingdienste.