O Griet, hier is a Muskiet!

[Skrywe aan die redakteur]
Ek dog ek verbeel myself met die zoom-zoom geluid hier by my oor. Maar o hete nee – dit was sowaar ‘n winter muskiet wat my laaste bietjie bloed wou kom opslurp!
Die venynige klein bloedsuier se vlerkies wat hier by my kom zoei, het summier my stert in ‘n krul getrek! Dis mos nog nie tyd vir dié tipe irritasie nie!
Of het die Augustus winde hulle van oor die waters gebring?
En nou sit ek en wonder, soos ek aan my pyp kou – diep ingedagte met Griet wat in die kombuis doenig is om allerlei muskietgoed bymekaar te skraap (al weet ons albei dis tevergeefs as hulle eers neersak op jou!)... kan ‘n muskiet hierdie Covid-neentien virus oordra?
Ek hoor op die TV dat hulle nou besig is om Covid vaccinations te maak wat soos neussproei opgespuit en gesnuif kan word. Dan is dit seker ook moontlik vir ‘n muskiet om die virus oor te dra? My oorle pa het altyd gese, pasop vir die winter muskiet; hy is die een wat die siektes gee. Maar wat weet ek?
Griet se Muskiet-Man
