Bid saam vir Helga

Thabazimbi – Slegs ‘n maand voor haar 13de verjaarsdag in Mei vanjaar het die sprankel in Helga Snetler se blou oë skielik begin dof raak... en haar lewe het ‘n drastiese ommeswaai ingeneem. Helga het skielik erge hoofpyne ontwikkel en was baie onstabiel op haar voete. Sy het ook uit die bloute skielik ‘koors aanvalle’ gekry wat dokters later gediagnoseer het as epilepsie. Dit was op ‘n stadium so erg dat sy te alle tye onder toesig moes wees aangesien sy sommer sou omval vir geen rede. Haar hele lyfie was vol blou kolle. Haar ouers was rasend van bekommernis en het haar van dokter tot dokter geneem om die oorsaak te bepaal. “Ons het verskeie dokters geraadpleeg, bloedtoetse gedoen en medisyne aangekoop op aandrang van die dokters... Ons pragtige dogtertjie is medikasie voorgeskryf vir alles van ‘n bakteriële infeksie tot virusse! Ons het geweet daar is iets ernstig fout want selfs met al die verskeie diagnoses het haar sig steeds agteruit gegaan,” aldus Conrad Snetler, Helga se vader, in ‘n onderhoud met Platinum Bushvelder.
Op daardie stadium was Helga se pupille permanent so groot soos 10c stukke. Raadop en moedeloos het Helga se ma Dolly se moederlike instink vir haar net gesê dat dit moontlik neurologies kan wees... Sy het terstond besluit om ‘n plaaslike oogkundige, Ilse du Plessis, te besoek.
Tydens die ondersoek was daar ‘n ‘skaduwee’ agter Helga se oog opgetel wat vermoedelik ‘n vergroeisel kon wees. Dokter Ilse het die Snetler-gesin verwys na ‘n spesialis by Mediclinic om haar suspisie te bevestig.
Die spesialis het aanbeveel dat Helga so gou moontlik ‘n MRI-skandering moet kry, aangesien haar pupille geen reaksie getoon het nie. Aangesien die Snetler-gesin nie oor ‘n mediesefonds beskik nie, het Helga op 11 Junie die skandering by die staatshospitaal te Polokwane ondergaan. Na aanleiding van die skanderings se data, beveel die neuroloog toe aan dat Helga dringend twee onderhuidse ‘shunts’ vanaf haar brein kry weens die ontsaglike drukking op haar brein. Shunts is ‘n mediese prosedure waar pypies in die brein geplaas word om die vloeistof te dreineer. Volgens die dokter sou sy sonder die prosedure binne drie maande totaal blind wees. ‘n Gewas of vergroeisel was op haar hipofise klier opgetel, wat o.a. bygedra het tot die drukking op haar brein en haar sig geweldig beïnvloed het.
Na die operasie was Helga by haar volle positiewe en het normaalweg kommunikeer. Later daardie aand het sy egter ‘n aanval gekry... Sowat twee liter vog het in haar longe versamel en sy was vir ‘n onbepaalde tyd sonder suurstof. “Ons was so verlig toe sy later bykom maar het met ‘n skok agtergekom dat sy niemand om haar herken nie, nie eers vir Dolly nie,” vertel Conrad ontsteld. Daar was besluit dat die beste pad vorentoe sou wees om haar in ‘n medies-geïnduseerde koma te plaas sodat haar liggaam en longe kon rus. Sy het intussen ‘n verdere operasie ondergaan waar die agterste gedeelte van haar skedel losgewikkel is om die drukking op haar brein weer te verlig.
Op 24 Junie word sy stelselmatig uit die koma uitgebring, die shunts het hul werk gedoen aangesien die drukking op haar brein stadig maar seker minder begin word het. Sy is ontslaan op 14 Julie maar moet gereeld vir opvolg ondersoeke gaan.
Haar dokters in Polokwane het na ‘n verdere ondersoek, haar verwys na die Ga-Rankuwa staatshospitaal waar sy deur spesialiste van Doctors without Borders gesien was op 18 Augustus. Die neurologiese span het bepaal dat Helga se groot- en kleinmotoriese funksionaliteit ernstig belemmer was weens die geweldige drukking op haar brein.
Die neuroloog van Doctors Without Borders bieg aan Dolly dat hy nie kan verstaan dat Helga kan loop en beweeg nie... Volgens sy evaluasie behoort Helga geen funksionaliteit van haar ledemate te hê nie. Hy noem ook dat hy nie kan begryp hoe sy nog ‘n glimlag kan hê nie!
TANS... Helga se bed is bespreek vir 2 September. ‘n Biopsie word beplan om te bepaal of die gewas kwaadaardig is, en of dit veilig verwyder kan word en/of behandel kan word met medikasie.
Die pad vorentoe is steeds vol uitdagings vir die Snetler-gesin.
Met geen mediesefonds... en hulle sit sonder ‘n ryding...
Hulle het reeds baie op die gemeenskap staatgemaak en spreek hulle diep dank teenoor almal uit.
Aldus Conrad: “Ons is baie dankbaar vir elke liewe een wat sover gehelp het om te verseker dat Helga die behandeling kry wat sy nodig het. Baie dankie vir die hulp met vervoer, verblyf in vreemde dorpe en sommer alles.” Die gesin wil graag vir alle ouers aanraai om hul instinkte te volg. As jy voel iets is nie reg nie, moenie tou opgee nie.
Indien jy ‘n bydrae wil maak tot Helga se pad na herstel, kontak Conrad op 065 659 4401.
