Rugby Kampioenskap 2021

NZ vs Argentinië
Die All Blacks dis skitter-ruggas op wen 39-0 teen die Pumas. Vir die ou grote, Brodie Retallick, moes dit sekerlik een van sy beste dae ooit gewees het om vir die eerste keer as cappie sy maats tot ‘n oortuigende oorwinning te lei.
Die Pumas het nooit gaan lê nie en het tot op die einde moedig probeer en soos Trojane verdedig. Veral die eerste twintig minute het hulle die Kiwi’s voos geduik. Maar ongelukkig wen jy nie toetsrugby met nét verdediging nie.
Vir die Kiwi’s het Beauden Barrett op losskakel weer getoon hoekom hy as een van die beste op die planeet beskou word ou groenes. Rieko Ioane het ook getoon hoe gevaarlik hy is op die aanval en verdediging.
Vir die Pumas het hulle cappie en haker, Julián Montoya, werklik hard probeer en was vurig. Die Argentyne se coach, Mario Ledesma, was nie baie in sy noppies met die agtien strafskoppe wat sy span afgestaan het nie. So ja, daar is baie werk wat wag in die Puma-kamp en sal hopelik in die vierde rondte punte op die telbord kan sit waar hulle weer teen die All Blacks moet uitdraf.
Australië vs Suid-Afrika
Donker dag vir duisende SA supporters ou groenes... Die Aussies verras vriend en vyand en klop die Wêreld Kampioene 28-26. Drama, drama, drama!
Quade Cooper is sekerlik ‘n naam wat enige Bok supporter vir eers nie wil hoor nie. Cooper is deur Aussie coach Dave Rennie ontbied en het die nommer 10 jersey aan hom toevertrou. Wat ‘n groot suksesverhaal is dit nie met Cooper wat vier jaar laas vir die Aussies uitgedraf het in ‘n toets nie? Die man van die oomblik teken 23 punte aan in sy terugkeer tot die internasionale arena. Hy toon BMT en in die 82ste minuut, klits hy komkommerkoel ‘n moeilike strafskop deur die pale om die Aussies te laat wen.
Verslae ringkoppe het nie veel langs die braai te sê gehad nie maar wat wel ‘n feit is... is dat die Bokke hard terug aarde toe gebring is. Van die senior spelers in die span en die cappie moet wragtig nou van die titel ‘World Champions’ vir eers moet vergeet en besef, as hulle nie baie gou ‘n ander attitude ondergaan nie, sal hierdie toer baie lank en pynlik wees ou groenie.
Daar sal altyd verskonings na ‘n neerlaag wees en beslissings deur die ref sal natuurlik die hoofoorsaak wees, maar ongelukkig is daar ‘n yskoue telbord wat in kort die verhaal van enige game vertel. Hoeveel keer is daar oor ‘n ref gepraat na ‘n oorwinning... mmm...?
Die Bokke speel weer teen die Aussies eerskomende Saterdag in rondte vier. Daar is baie keer gesê ‘n gewonde Bok is gevaarlik, hopelik met horings en trots ja!
Nag ou groene...
#FosteringASenseOfCommunity
