Schools & sport

Curriebeker Finaal 2021

7 September 2021 · Platinum Bushvelder

Curriebeker Finaal 2021

Bulls vs Sharks
Op Fort Loftus word daar geskiedenis gemaak ou grote... Eerstens is dit die eerste keer in geskiedenis dat een span die gesogte beker twee keer in een jaar wen. Natuurlik weens Covid-19, maar die rekordboeke word herskryf. 


Dan wat meer saak maak, is ‘n rekord oorwinning van 44-10... dis die grootste telling ooit in ‘n finaal. Die Bulle het die Haaie behoorlik gegaffel en verniel, eintlik geboelie. Dit was ‘n puik spanpoging en om spelers uit te sonder is moeilik. Onder die voorspelers het Marcell Coetzee, Elrigh Louw en Ruan Nortjé die pap dik aangemaak. Coetzee het ook as kaptein van voor af gelei met sy besielende spel en leierskap.


Op losskakel het Chris Smit dalk sy beste game ooit gespeel. Daar was so baie bespiegel met die onttrekking van Johan Goosen, maar Smittie het nie teleurgestel nie. Aan sy binnekant het die Bulle se skrummie, Zak Burger, puik spel opgelewer. Harold Vorster het op 12 geskitter en is ook beloon met ‘n puik drie. Die lang en lenige heelagter David Kriel het ook die oog gevang met baie goeie spel. Jake White behaal sy 22ste agtereenvolgende oorwinning as coach op Loftus en wyle Oom Buurman sal nou weer vir ruk rustig kan wees.


Vir die Haaie – wat gelyk het of hulle katgriep gehad het – was dit ‘n mislike lang aand op kantoor. Die Haaie sal ‘n haas, of liewer ‘n regte groot haai uit die swembad moet trek, as hulle nie wil verneder word in die komende United Rugby Championship reeks wat op 24 September afskop nie. 
Coach Sean Everitt en sy makkers sal verseker nie deurslaap met die baba haaitjie nie.
Well done Bulle! 
Nag ou grote...

#FosteringASenseOfCommunity