Dokter Dokter... Skrywe aan die Redakteur

Jare gelede was daar ‘n televisie program met die bogenoemde titel. Heelwat humor en ligte vermaak was ingewerk.
My lewe lank was ek ‘n riller vir dokters. Waaghalsig... avontuurlustig... en soms sommer net dom astrant! Só leer die bosveld medikusse engele my ken met al my ingebore tekortkominge en fisiese aangebore defekte. Dit sluit ‘n krok rug, rumatiek koors, asma en engtevrees asook ‘n oorbeskermde kinderlewe in.
Ten spyte van my tekortkominge spits ek myself daarop toe om aan die bokant uit te styg. My fokus word ‘n manie – en dit dryf my deur my vakmanskap, die weermag, waaghals, atletiek, boks, karate, skopboks, natuur verkenning, slange vang, valskerm spring, argeologie, bou sektor, evangelis, avonturier, selfaangestelde sekuriteitsoffisier, amateur sielkundige... en die lys eindig nie daar nie!
Genoeg om my gereeld in die hande van die mediese engele te bevind. Die mooi, lelik en verleentheid. Mooi was die pyn verligting, lelik was die kostes en nagevolge; en verleentheid kon ‘n magdom wees van ‘n bedpan, skeer op skaam plekke, setpille en kateders.
So, dokter dokter, verpleegster, sieke trooster en skoonmaker... ek salueer u. Ek dank u.
Oom Mamba, Thabazimbi
