Crime & safety

Brendin se moordbeskuldigdes, skotvry 

29 November 2021 · Platinum Bushvelder

Brendin se moordbeskuldigdes, skotvry 

Senekal – Volgens die burgerregteorganisasie AfriForum is die verwikkelinge in die Brendin Horner-saak om verskeie redes uiters kommerwekkend.


Die twee beskuldigdes, Sekwetje Mahlamba (32) en Sekola Matlaletsa (44) is op 19 November ook onskuldig bevind aan skaapdiefstal nadat die moordklagte teen hulle laat vaar is voor die Vrystaatse Hooggeregshof.


Brendin, ‘n jong plaasbestuurder van 21, is wreedaardig vermoor en met ‘n tou vasgemaak aan ‘n paal van die plaasheining in Oktober 2020 in Senekal, Vrystaat. 


Jacques Broodryk, AfriForum se bestuurder van Veldtogte, sê inligting oor polisiebetrokkenheid by veediefstalsindikate in die Vrystaat doen lankal reeds die rondte.

“As jy dit in ag neem, is dit skokkend dat dit die polisie oënskynlik ’n jaar geneem het om te besef dat die DNS wat op die toneel gevind is, nie met die verdagtes s’n ooreenstem nie, veral nadat een van die beskuldigdes reeds erken het dat hy by die moord betrokke was. Die feit dat Boy Khambule, die staatsgetuie in die saak, nou sy getuienis verander het, kan vir seker die indruk skep dat iemand by die saak inmeng.”


Hierdie nuwe verwikkelinge bevestig weer eens AfriForum se standpunt dat plaasaanvalle as ‘n prioriteitsmisdaad geklassifiseer moet word sodat sake deeglik, sonder enige inmenging, ondersoek kan word.


AfriForum het ook ‘n regsverteenwoordiger aangestel om die hofverrigtinge by te woon en sodoende te verseker dat dit volgens die boek verloop. Volgens Broodryk verdien Horner en die duisende ander slagoffers van plaasmoorde en -aanvalle geregtigheid en indien AfriForum vermoed dat die owerhede inmeng of dat onbevoegdheid die verhoor beïnvloed het, sal die organisasie beslis privaat vervolging oorweeg.


Die spesialisondersoeker Mike Bolhuis, gaan ook die moord op Horner ondersoek. ‘n Ondersoekspan is onderweg na Vrystaat.

Ondersteuners in Senekal. 
Wyle Brendin Horner

#FosteringASenseOfCommunity