Schools & sport

United Rugby Championship

8 February 2022 · Platinum Bushvelder

United Rugby Championship

Lions vs Bulls
In Jo’burg klop die Bulle die Leeus 34-10. Die Bulle het sware asems uitgeblaas in die skrums maar was verder net te goed vir die Leeus. Vir die Bulle moet die naam van Johan Grobbelaar genoem word.

Hierdie fris haker toon belofte en sal beslis later vanjaar vir die Bokke uitdraf ou grote. Die los trio van die Bulle was uitstekend en Elrigh Louw se spel is ‘n lus vir die oog. Louw is tans die beste loosie in die land. Die Bulle behaal dan ook ‘n belangrike bonuspunt vir hulle vier drieë. Die Bulle speel Saterdag 2 Februarie om 15:00 weer teen die Leeus, maar hierdie keer op Fort Loftus.

Sharks vs Stormers
In die Haaitenk was uiters power en swak dissipline die ondergang van die Durbaniete ou grote. Twee strafdrieë en drie geelkaarte deur die Haaie het die Stormers gehelp om met 22 elk gelykop te speel. Die Haaie was met rustyd 11-3 voor en was in beheer. Die Stormers het geknor in die vaste skrums met die Haaie se Ox Nché wat verwoestend was.

In die tweede helfte het die Stormers die veteraan Brok Harris van die bank af opgestuur om vir Ox in toom te probeer hou. Nché is ook welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys. Vir die Stormers het Warrick Gelant weer die vonk agterlangs verskaf toe hy van die bank af opgestuur was. Hoekom Dobson nie vir Gelant op senter ‘n kans gee nie sal niemand weet nie... 
Die twee spanne speel dan weer Saterdag 5 Februarie in die Kaap teen mekaar.

Ander uitslae:
• Cardiff Blues 29 - 27 Leinster
• Ospreys 23 - 19 Edinburgh
• Zebre 17 - 34 Munster
• Connacht 20 - 42 Glasgow Warriors
• Ulster 27 - 15 Scarlets
• Dragons 13 - 13 Benetton

HSBC Seville Sewes

Die Blitse wen hul vierde agtereenvolgende toernooi in die reeks met ‘n puik vertoning teen Australië in die finaal wat hulle welverdiend met 33-7 wen. 


Australië het in hulle semi-finaal vir Argentinië lekker ore aangesit en na ‘n bedreiging vir die Blitse gelyk. Maar dis nou geskiedenis, die groen golf het hulle soos ‘n orkaan getref en daar was net een span op die veld.


Die Blitse se uitslae tot in die finaal:
• SA 33 -12 Spanje
• SA 20 - 0 Ierland
• SA 24 - 19 VSA
• SA 31 - 24 Skotland
Nag ou grote...

Ses Nasies Kampioenskappe 2022

Die 2022 Ses Nasies skop eerskomende Saterdag af. Die verdedigende kampioen, Wallis, kan kwaai teenstand verwag van Frankryk.

Die Franse Hane se vere is hoog na hulle oorwinning einde verlede jaar oor die All Blacks. Engeland het ‘n groot terugslag met die besering wat cappie Owen Farrell opgedoen het en toe nie aan die reeks kon deelneem nie...


Bepalings: Saterdag 3 Februarie • Ierland 16:15 Wallis • Skotland 18:45 Engeland
Sondag 4 Februarie • Frankryk 17:00 Italië