Community

‘Ons Winkel’ is OOP! 

14 February 2022 · Platinum Bushvelder

‘Ons Winkel’ is OOP! 

Thabazimbi – ‘Ons Winkel’, die Solidariteit Helpende Hand welsynswinkel, het met groot sukses hul deure aan die Thabazimbi gemeenskap geopen op Vrydag 21 Januarie by Rietbok Straat 3.

Beanka van Niekerk, eienaar van die winkel, verwelkom almal hartlik om ‘n draai te kom maak.

Beanka het Toerisme Bestuur studeer by Centurion Akademie en het nie in haar wildste drome kon dink dat sy ooit ‘n welsyn-klere winkel sou oopmaak nie. Die pad wat sy saam met Solidariteit Helpende Hand stap beteken baie vir die gemeenskap.

In ‘n onderhoud met Platinum Bushvelder vertel Beanka: “Ek het ‘n ‘Ons Winkel’ in ‘n ander dorp gesien, en toe byt die gogga my! Ek het daaroor gebid en die idee om dié soort winkel oop te maak in Thabazimbi, het ‘n brandende begeerte geword.”

“Ek is dankbaar vir die Here en Solidariteit dat ek hierdie geleentheid kon kry,” aldus Beanka.

Helene Schoeman, areabestuurder van Limpopo ‘Ons Winkel’ het ook hierdie spesiale geleentheid bygewoon. Thabazimbi se winkel is nommer 113 in die land en die 6de winkel in Limpopo. Die ander is geleë te Polokwane, Mokopane, Ellisras, Groblersdal en Bela-Bela.

Die winkel verkoop kwaliteit produkte teen bekostigbare pryse vir die publiek.

“Dit bied ook inwoners van die dorp die geleentheid om iets terug te ploeg in hul gemeenskap deur onbruikbare items vir die winkel te skenk,” sê Helene.

“Dit is vir ons ‘n eer en voorreg om saam met Beanka te werk. Saam sal die projek groei krag tot krag,” aldus Solidariteit Helpende Hand Northam/ Thabazimbi-tak voorsitter René Jansen.

Vir meer navrae, skakel Beanka by 073 047 2988.

#FosteringASenseOfCommunity