Rugby Kampioenskappe 2022

Springbokke vs All Blacks
Op Ellispark voor sowat 63,000 fanatiese Bok-ondersteuners bederf die Kiwi’s die dag en wen 35-23. Nienaber se spankeuses het ge-boemerang en duisende teleurgestelde rugga liefhebbers het maar ‘n hartseer Saterdagaand beleef.
Alle eer aan die All Blacks. Die bestuur en span was onder geweldige druk maar het volgehou om in mekaar te glo en vermag amper die onmoontlike om die Bokke in Johannesburg te klop.
Op die vooraand van die Bokke se vertrek, is daar slegte nuus dat Bongi Mbonambi nie die toer as haker kan meemaak nie. Joseph Dweba het gesukkel teen die All Blacks, maar is wel in die toerspan. Deon Fourie is ook in die groep ingesluit as voorsorg op haker.
Cobus Reinach is ook deel van die groep. ‘n Verrassende insluiting is dié van die jong Bulle speler, Canan Moodie, as veelsydige agterspeler. Nienaber het skielik ‘n skoen wat lekker druk en sal op die toer moet bewys hy is in beheer.
Die Bokke draf op 27 Augustus teen Australië uit in Adelaide. Die Kiwi’s speel op dieselfde dag teen Argentinië.
Argentinië het die Aussies by San Juan verwoes en wen met ‘n rekordtelling 48-17 en druk sewe puik drieë. Die Aussies moes sonder ‘n hele paar gereelde spelers speel.
Nag ou grote...
#FosteringASenseOfCommunity
