Rugby Championships 2022

Australië vs Nieu-Seeland
Oor hierdie toets se uitslag gaan nog vir jare lank om die braaivleisvure geskerts word. Een van die mees opspraakwekkende beslissings deur die Franse ref, Mathieu Raynal, veroorsaak dat die All Blacks in die laaste 30 sekondes die wendrie druk.
Op die Aussie doellyn ken hy ‘n strafskop toe aan hulle. Bernard Foley en Nic White probeer toe vir tyd speel en talm te lank. Raynal blaas hard op sy fluitjie en verander sy beslissing en ken ‘n skrum toe aan die All Blacks. Die Kiwi’s gryp die kans aan, wen die skrum en flinke hande gee die bal vir Jordie Barrett om in die hoek die wendrie te druk.
In geheel was dit ‘n puik toets. Die Aussies veg terug van 13-31 om met 90 sekondes voor die einde 37-34 voor op die telbord te wees. Drama ou grote!
Die All Blacks wen 39-37 en verower weer die Bledisloe Cup – nou vir die twintigste agtereenvolgende keer.
Die Aussies speel weer Saterdag om 09:05 op Edenpark teen die Kiwi’s, wat ‘n riller beloof te wees. Die All Blacks sal met ‘n bonuspunt moet wen as hulle hoop om die titel te behou.
Die stand van sake op die tabel is vir die eerste keer in jare ‘n senu-tergende affêre maats. Die Bokke en die Kiwi’s is elk op veertien punte. Die punteverskil speel nou ook ‘n belangrike rol indien nie een van die twee spanne met ‘n bonuspunt wen nie.
Maar op die einde van die dag moet die Bokke en die All Blacks eers hul onderskeie games wen. Trane kan nog rol ou grote...
Argentinië vs Suid-Afrika
In Buenos Aires klop die Bokke die Pumas gemaklik met 36-20 en verdien daarmee ‘n waardevolle bonuspunt en is op 14 punte gelyk aan die Nieu-Seelanders.
Malcolm Marx speel sy beste toets ooit en word ook beloon met twee puik drieë. Sjoe, mens hoop net Nienaber was ook daar om te sien hoe die yster kan speel as hy die kans gegun word! Francois Steyn vervang die beseerde Damian Willemse in die 64ste minuut en speel goeie ruggas op tien. Met Willemse nie nou beskikbaar vir die laaste toets in Durban nie, behoort Steyn dalk op tien vir die Bokke te begin.
Die Bokke en die Pumas draf weer Saterdag om 17:05 in Durban uit vir die laaste toets van die reeks. Dis nou ou nuus manne en manninne. Die Bokke moet wen en ‘n bonuspunt behaal – én ten minste met 30 punte wen om die beker te kan wen... eish! Braai en lawaai, gaan groot en geniet die opwinding.
Net so bietjie ander rugga nuus...
Die o/19 Nieu-Seelandse rugbyspan toer tans in Suid-Afrika. Die Kiwi jongspan was op 19 September in aksie teen die o/19 WP en wen 86-0... eina!
Die seun van oud Springbok skrummie Joggie Viljoen is ook in die Kiwi’s se span en Joggie Junior volg in sy pa stewels en speel ook skrummie. Die Kiwi jongelinge draf Saterdag teen die o/19 Sharks in Durban uit.
Nag ou groene....
United Rugby Championship
Die 22/23 URC seisoen het afgeskop en op tuisfront klop die Bulle die Leeus gemaklik 31-15. Al die SA spanne sal in aksie wees in week twee.
Uitslae:
- Ulster 36-10 Connacht
- Edinburgh 44-6 Dragons
- Scarlets 23-23 Ospreys
- Lions 15-31 Bulls
- Cardiff 20-13 Munster
- Zebre 29-33 Leinster
- Benetton 33-11 Glasgow Warriors
Bepalings:
Vrydag 23 September
- Zebre 18:30 Sharks
- Glasgow Warriors 20:35 Cardiff
- Saterdag 24 September
- Scarlets 14:00 Ulster
- Bulls 14:30 Edinburgh
- Stormers 14:30 Connacht
- Ospreys 20:35 Lions
- Sondag 25 September
- Dragons 16:00 Munster
Nag ou grote...
#FosteringASenseOfCommunity
