‘n Regverdige kans vir wees-diere

Thabazimbi – Jamiela van der Walt het van kleins af ‘n liefde vir diere ontwikkel en wou net al die diere red. Sy het ‘n plan van aksie gehad en hard gewerk om dit te verwesenlik.
Stap een was om ‘n veearts te word. Stap twee was om haar belangstelling in diere-gedrag na te jaag.
Die vrugte van haar arbeid begin eindelik werklik ‘n verskil maak, nie net in die lewens van diere nie, maar ook in ander diereliefhebbers.
Haar droom het ‘n naam gekry – Pawtrility, en alhoewel dit nog in die beginstadium is, het hulle alreeds heelwat diere gehelp.
Pawtrility bestaan uit vrywilligers wat help met pleegsorg van allerhande diere. Van die vrywilligers het al klaar opleiding ontvang oor hoe om ‘n dier se lyftaal te verstaan, hoe om te bepaal watter tekortkominge die dier fisies en emosioneel het, en hoe om dit aan te spreek. Die aksies word gedoen in noue samewerking met die Pawtrility-span.
“Daar is soveel wees-diertjies wat nooit ‘n kans staan nie weens mense wat roekeloos teel en honde wat net op straat weggegooi word. Al die diere het die potensiaal om iemand se lewe te verryk. Ons beoog om ‘n dier waarlik ‘n aanwins en liefdevolle familielid te maak,” vertel Van der Walt.
“Om ‘n dier ‘n ware kans te gee, moet mens die basiese beginsels in plek hê sodat die dier die selfvertroue en maniere het om ‘n nuwe situasie en familie te kan akkommodeer.”
Volgens Van der Walt is daar baie diere wat wel ‘n tweede kans gegun word deur aangeneem te word, maar baie van hulle word na ‘n tydperk teruggebring omdat hulle “stout” is. In baie gevalle is dit omdat die familie nie die nodige leiding gekry het nie.
Hulle weet nie altyd hoe om ‘n aanneem-diertjie te help om aan te pas en te groei nie. “Dis ons missie om mens en dier bymekaar te bring sodat hulle mekaar kan verryk en saam ‘n lewe bou,” sê Van der Walt.
Op die stadium werk Pawtrility meestal met honde en katte, en het ‘n paar perde ook al gehelp. Hulle is egter in die proses om beter fasiliteite te bou sodat hulle nog meer betrokke kan raak. Dis ‘n lang proses maar beloof om soveel harte te genees en liefde terug te sit in ‘n gebroke wêreld.
- Sukses stories:
Finkel en Koljander was twee van drie hondjies wat op ‘n ashoop weggegooi was. Hulle was skaars twee dae oud. Die derde hondjie het ongelukkig gesterf voor ‘n barmhartige Samaritaan hulle kon inbring. Die ander tweetjies was nog vol lewe en Pawtrility het die taak aangepak om hulle groot te maak, te ent en te steriliseer. Hulle het op vier weke ook begin met basiese gehoorsaamheid opleiding en op nege weke was beide aangeneem in liefdevolle families.
In die begin van 2022 het twee Malinois honde by Pawtrility opgeëindig na hulle vasgevang was in die middel van ‘n skeisaak. Malinois val in die werkersklas honde en mens moet hulle goed verstaan om hulle gelukkig te kan hou. Hulle is nie ‘n troeteldier wat sal gelukkig wees om net heeldag op die bank te lê nie. Pawtrility het dadelik met hulle begin werk.
Die honde was gesond maar baie frustreerd weens die feit dat hulle nooit die kans gegun was om hul volle potensiaal te bereik nie.
Na hul basiese opleiding, het Pawtrility ‘n organisasie genader wat hul goed weet, die diertjies sal waardeer en baie gelukkig sal maak. Vandag werk albei honde om wild op te pas.
- Bakkies se storie
Bakkies is ‘n vierjarige worshond wat dringend ‘n nuwe huis soek. Hy is op die Dwaalboompad uit die kar gegooi en geskiet. Daar was verskeie pellet geweer patrone in sy lyf. Meeste van hulle kon Van der Walt uithaal, maar van die pellets is onbereikbaar.
Pawtrility het ook aan Bakkies se emosionele skade aandag gegee. Van der Walt noem hom nou ‘n beskaafde burger en ‘n goeie familielid. Ongelukkig kan hy nie op die plaas aard nie, omdat hy kruppel is en nie saam met die ander honde kan byhou nie.
As jy Bakkies deel van jou familie maak of meer inligting soek oor Pawtrility kontak Van der Walt op 078 981 0920.
#FosteringASenseOfCommunity
