United Rugby Championship

Die vierde rondte is beslis die afgelope naweek in die kampioenskap, maar met gemengde gevoelens vir die SA spanne.
- Lions
Die Leeus is tans op almal se lippe na hul drie-uit-drie oorwinnings op toer. Die waarde van ervaring en die onvoorspelbaarheid van die jeug was die suksesverhaal op hulle toer. Die kalmte en leierskap van die gewese Bok Andries Coetzee op heelagter is besielend. Dan het die 20-jarige Henco van Wyk op senter geskitter en moet baie naby wees aan ‘n plek in die Bokgroep.
En so het die 19-jarige Ruan Venter, wat nog verlede jaar op die skoolbanke gesit het, die rugga planeet soos ‘n orkaan getref. Hierdie jong flank gaan nog een van die heel grotes word ou grote. Die Skotse losvoorspeler, Hamish Watson, kan daarvan getuig. Ruan het Watson behoorlik raakgery, sodoende dat Watson die veld moes verlaat. Die Jo’burgers speel Saterdag op Ellispark teen Ulster.
- Bulls
Die Bulle kom hard terug aarde toe in Glasgow teen die Warriors. Dit is die Bulle se eerste nederlaag van die seisoen en bra Jake is skielik effens van balans af. Vir die Warriors het hulle nuwe coach, ene meneer Franco Smith, beslis in die mou gelag. Die Bulle se volgende game is teen Munster in Ierland. Met Munster ook effe van die pad af kan dit die Bulle dalk weer op die wenpad bring.
- Sharks
Die Haaie word in ‘n drieë-fees geklop deur die sterbelaaide Leinster span. Die Sharks druk vyf drieë teenoor die agt van die tuisspan. Vir die Haaie druk Thaakir Abrahams ‘n droom-drie. Die Durbaniete was tot die sestigste minuut nog sterk in die game, maar die Ierse agterlyn het die krane toe behoorlik oopgedraai en die verdediging van die besoekers aan flarde geruk. Die Haaie se volgende game is teen die omgekrapte Warriors van Glasgow in Durban.
- Stormers
Die Stormers wen gemaklik teen Zebre in Parma, Italië. Hierdie game sal lank onthou word vir die puik spel van die Junior Bokkies se cappie, Sacha Mngomezulu. Sacha het op binnesenter geskitter en is beslis bestem vir die hoër louere. Die mannetjie teken 22 punte aan – 100% rekord met sy skopskoen, vier doelskoppe en drie strafdoele. Hy druk ‘n puik drie en het ook ‘n groot aandeel in ander sukses vir die Stormers. Die Kapenaars se volgende game is teen die Ospreys in Swansea.
- Uitslae:
Edinburgh 19-22 Lions
Connacht 20-11 Munster
Zebre 20-37 Stormers
Leinster 54-34 Sharks
Scarlets 10-16 Cardiff
Glasgow Warriors 35-21 Bulls
Ulster 47-17 Ospreys
Benetton 34-14 Dragons
Bepalings:
- Vrydag 14 Oktober
Ospreys 20:35 Stormers
Connacht 20:35 Leinster
Saterdag 15 Oktober
Lions 14:00 Ulster
Sharks 16:05 Glasgow Warriors
Edinburgh 18:15 Benetton
Cardiff 18:15 Dragons
Munster 20:35 Bulls
Scarlets 20:35 Zebre
Gebruik maar koue bruisdrankies teen die erge hitte maats. Voorkoming is beter as genesing, soos my liewe skoonma altyd mompel.
Nag ou grote...
#FosteringASenseOfCommunity
