Weerlig tref prokureurskantoor – Gemeenskap tree vinnig op

Thabazimbi – Die kantoorgebou van Eric Marx Prokureurs is Maandag, 6 Januarie 2025, omstreeks 15:25 deur weerlig getref, wat ‘n brand aan die buitekant van die gebou veroorsaak het.
Een van die werknemers het die vlamme opgemerk wat reeds aan die buitebalk en binne in die dak begin brand het. Die situasie is egter vinnig onder beheer gebring danksy die vinnige optrede van die gemeenskap.
Een van die werknemers se man het die vlamme buite geblus met ‘n brandblusser, terwyl die bure, Eksteen Pieterse en sy gesin, gehelp het om die brand in die dak te blus. ‘n Seun het selfs in die dak geklim om te help.
Danksy die spanpoging van Thabazimbi Fire en Rescue, die brandweerspan, die gemeenskap, en die betrokke werknemers is die skade tot die minimum beperk. Die herstelwerk aan die gebou is reeds voltooi.
Eric Marx Prokureurs bedank almal wat bygedra het tot die vinnige blus van die brand en die beskerming van hul eiendom.
Thabazimbi se gemeenskap het weereens gewys dat saamstaan die verskil maak!
