Beskuit vir ‘n glimlag

Thabazimbi – Op Donderdag 13 Maart 2025 het verteenwoordigers van die ATKV Thabazimbi en ‘n paar SAVF-vrywilligers ‘n spesiale gebaar van omgee en waardering gebring na die bejaardes en personeel van Tambotie Versorgingsoord vir verswakte bejaardes.
In totaal is 50 pakkies beskuit met liefde uitgedeel – 18 aan die inwoners van Tambotie, 8 aan die bejaardes in die SASSA-huis en 24 aan die toegewyde personeel van Tambotie.
Volgens Linda Grobler, voorsitter van die ATKV-tak Thabazimbi en ondervoorsitter van die SAVF-diensbestuur, is die projek moontlik gemaak deur befondsing van die ATKV en met die hulp van SAVF-vrywilligers. “Ons wou ‘n bietjie sonskyn in die dag van ons bejaardes bring met hierdie klein bederf, en terselfdertyd ook die personeel bedank vir hul sorg en toewyding,” het Grobler gesê.
Dalene Bester, voorsitter van die SAVF-vrywilligersdiensbestuur, het benadruk hoe belangrik dit is om ons bejaardes te waardeer. “Hulle vorm ‘n onmisbare deel van ons gemeenskap se erfenis en geskiedenis. Dit is vir ons ‘n eer om hulle te koester en te bederf.”
Foto: Van links: Christelle Barnard (SAVF-diensbestuur), ‘n toegewyde Tambotie-personeellid, Janita Barnard (SAVF-vrywilliger), ‘n Tambotie-personeellid, nog ‘n Tambotie-personeellid en Linda Grobler (ATKV Thabazimbi en ondervoorsitter: SAVF Thabazimbi-diensbestuur).
