Community

Afskeid van ‘n Legende 

26 March 2025 · Platinum Bushvelder

Afskeid van ‘n Legende 

Northam – Familie, vriende en die gemeenskap het op Woensdag, 19 Maart 2025, in die Hervormde Kerk Joachim Prinsloo, Northam, bymekaargekom om afskeid te neem van ‘n geliefde man, Zacharias Johannes (Zaag) Young. Sy lewe, wat op 26 Mei 1945 begin het, is op 10 Maart 2025 tot ‘n einde gebring, maar sy nalatenskap sal bly voortleef in die harte van almal wat hom geken het.

Meer as net ‘n naam – ‘n lewe vol karakter

Zaag Young was ‘n mens-mens, ‘n storieverteller en ‘n vindingryke gees. ‘n Man wat lief was vir visvang en wie se toolkit altyd ‘n nuwe gadget vir sy visstok bevat het. Vir hom was die proses belangriker as die eindbestemming, ‘n les wat ons almal by hom kon leer.

Sy hande was geroep om dinge te bou – of dit nou ‘n seewaardige voertuig was (al het sommige daarvan nooit ‘n lisensie gesien nie), of ‘n huisie by die see in Mosambiek, sy eie stukkie paradys. Selfs sy tuisgemaakte boorgatpomp op ‘n fiets was ‘n bewys van sy kreatiwiteit en deursettingsvermoë.

‘n Onvergeetlike nalatenskap

Hy was Adri se blouoog-bruidegom, ‘n pa, oupa, broer, vriend en bondgenoot vir baie. Sy liefde vir mense en die natuur was kenmerkend van sy karakter. Terwyl hy altyd besig was om dinge reg te ruk, was sy hart altyd by sy familie en vriende.

Met sy staaltjies kon hy mense na sy kinderdae terugneem en ‘n nostalgiese glimlag op almal se gesigte toor. Sy liefde vir die lewe en sy eindelose kreatiewe idees het hom uniek gemaak.

Vaarwel, maar nooit vergete

Terwyl die son oor sy geliefde plekke sak, wag Nuk-Nuk, die nagaap, rustig vir die nag om te kom. Zaag is nou saam met sy geliefdes, Adri en klein Zagie. Hy het sy reis voltooi – en uiteindelik sy bestemming bereik.

Mag sy herinnering voortleef in elke visvangstorie, elke skeppende handewerk en elke lag wat sy herinneringe oproep.

Foto: In liefdevolle herinnering aan Zacharias Johannes (Zaag) Young – ‘n man wat geweet het hoe om die lewe te leef en ‘n nalatenskap van stories en innovasie agterlaat.