Ysterberg Voortrekkers laat die nag GLOW!

Thabazimbi – Die Ysterberg Voortrekkers het weereens gewys hoe om groot te gaan met ‘n GLOW Sokkie en speletjiesaand wat jeuglede en hul vriende nie gou sal vergeet nie! Die aand was propvol energie, pret en spanbou – ‘n geleentheid waar Voortrekker-lede en nie-lede saam kon kuier en die gemeenskap se jongmense betrek is by ‘n nag vol opwinding.
‘n Nag om te onthou
Van speletjies tot dans en ‘n middernag-fliek; hierdie fondsinsamelingsprojek was ‘n reuse sukses. Ysterberg se offisiere het nie net die aand sorgvuldig beplan nie, maar ook deur die nag gewaak om te verseker dat alles seepglad verloop. Vir hierdie toegewyde offisiere was dit ‘n ware plesier om so ‘n spesiale geleentheid vir die kinders te kon aanbied – want uiteindelik gaan dit oor hulle!
#VoortrekkerGlimlagte #GlowSokkiePret
Dank aan ons borge en ondersteuners
Sulke suksesvolle geleenthede sou nie moontlik wees sonder die onbaatsugtige bydraes van ons gemeenskap nie. Ons rig ‘n opregte dank aan al die ouers wat hul kinders in ons sorg toevertrou het vir die aand, asook aan ons borge en ondersteuners:
- Die offisiere, heemrade en jeugvriende wat gehelp het om die aand ‘n treffer te maak.
- Nico du Plooy van Smartbrain vir die gebruik van hul perseel – ons waardeer dit opreg!
Hooffoto: Chandre Swanepoel (links) en Ananda Pieterse, vol glimlagte en gereed vir ‘n aand vol GLOW!
