Schools & sport

Frikkie Meyer se hokkie spanne vuur op volle sterkte!

26 March 2025 · Platinum Bushvelder

Frikkie Meyer se hokkie spanne vuur op volle sterkte!

Thabazimbi – Hoërskool Frikkie Meyer se hokkiespanne het Saterdag, 15 Maart 2025, gewys waarom hulle ’n formidabele krag in skolesport is. In ‘n vriendskaplike wedstryd teen Hoërskool Die Wilgers het al vier spanne hul opponente oortuigend oorrompel – sonder om ‘n enkele doel af te staan!

Die jong, talentvolle o/14A-span het die dag met ‘n indrukwekkende 9-0 oorwinning afgeskop, met Phumi Maseko wat die spel gedomineer het. Die o/15A-span het hul teenstanders met 8-0 laat les opsê, met Merisha Bezuidenhout wat die toon aangegee het. Daarna het die o/16A-span ‘n verstommende 11-0 sege behaal, grootliks te danke aan Angel Rakgwale se briljante spel. Die eerste span het die oorheersing bekroon met ‘n klinkende 7-0 oorwinning, met Dane Brentmeek wat as die ster van die wedstryd uitgeblink het.

Frikkie Meyer se hokkie is duidelik op ‘n nuwe vlak en hierdie spanne bewys dat deursettingsvermoë, spanwerk en puik afrigting ’n wenresep is!

Foto: Hoërskool Frikkie Meyer se eerste hokkiespan, onder leiding van afrigters Christine Swart en Anmarie Schutte, het hul teenstanders met uitstekende spel oortref.