Strate in Northam omskep in rioolriviere

[Mediaverklaring uitgereik deur David Gouveia, VF Plus-raadslid: Thabazimbi-plaaslike munisipaliteit | 17 Maart 2025]
Thabazimbi/ Northam – Weens die Thabazimbi-plaaslike munisipaliteit se wanbetaling aan Eskom het die kragverskaffer die krag voor die naweek van 15 Maart na Northam se rioolpomp afgeskakel. Dit het daartoe gelei dat riool die strate in rioolriviere omskep het – ook om die winkelsentrum wat veral oor naweke baie besig is.
Ná druk van die VF Plus op die speaker van die munisipale raad, mnr. Dingaan Sebata, is Eskom se rekening betaal en die krag na die pomp herstel. Dit was egter te laat om die rioolstorting te verhoed.
Northam is die weeskind van die Thabazimbi-munisipaliteit en word dikwels aan sy eie genade oorgelaat. Northam se inwoners het net soos dié van die groter Thabazimbi ‘n grondwetlike reg op behoorlike dienslewering en om in ‘n omgewing te werk en woon wat nie ‘n gevaar vir hul gesondheid en die omgewing inhou nie.
Die party het die situasie ook met die Groen Skerpioene opgeneem wat onderneem het om dit te monitor. Die VF Plus het ook ʼn dringende vergadering van die munisipaliteit se infrastruktuurkomitee versoek om die nodige stappe in werking te stel om ‘n soortgelyke probleem te voorkom.
