Fakkels, Vriende en Feesvreugde VOORTREKKERS KAMP SOOS GEEN ANDER!

Thabazimbi – Die Ysterberg Voortrekkers het van 9 tot 11 Mei 2025 ‘n opwindende Veldkornetskap Kamp by Lethabong Lodge net buite Thabazimbi aangebied – en wat ’n naweek was dit!
Die kamp is Vrydagaand afgeskop met ’n indrukwekkende fakkel-nagmars, gevolg deur ’n energieke stappie en oggendseremonie op Saterdagoggend. Die res van die naweek was propvol avontuur, spanbou en spesialisasie-aktiwiteite, alles deeglik beplan deur die toegewyde span offisiere.
Van waterpret op die glybaan tot stapritte in die natuur, bokkies kyk, help kosmaak en tent-oorslaap – kinders het nie net pret gehad nie, maar ook waardevolle lewenslesse geleer.
“Dit was voorwaar ’n leersame, produktiewe en prettige naweek,” sê die organiseerders. “Ons is ongelooflik dankbaar aan ons borge, ouers, offisiere, heemrade en jeugvriende – julle is ysters! Sonder julle sou hierdie kamp nie moontlik gewees het nie.”
’n Spesiale dankie gaan aan Lethabong Lodge en hul personeel wat met groot gasvryheid die groep verwelkom en hul kamp ’n besonderse ervaring gemaak het.
Hooffoto: Met flikkerende fakkels en opgewonde harte het die kinders die kamp afgeskop met ’n magiese nagmars.
