Wanneer die Sirene Loei… Koedoeskop se Noodplan in Aksie!

Thabazimbi – Maandag 26 Mei 2025 was alles behalwe ‘n gewone dag by Laerskool Koedoeskop toe hul kwartaalbrandoefening lewendig en leerdervriendelik deur Northam Platinum Mine Fire and Rescue ondersteun is.
Met die alarm wat lui, het leerders vinnig en georganiseerd ontruim na die rugbyveld, waar die regte brandbestryders reeds gewag het. In ‘n realistiese scenario het die span een van die leerders ‘gered’ om te wys hoe hulle in ‘n noodgeval sou optree – iets wat vir jong en oud indrukwekkend was.
Na die oefening het die brandweerpersoneel met entoesiasme hul toerusting, uniforms en die funksies van hul brandweerwa aan die leerders verduidelik – insluitend hoe elke item lewens help red. Kinders het met oë so groot soos pierings geluister en geleer.
Elke klas het opvoedkundige plakkate ontvang, en die brandweer het waardevolle hulp aangebied om die skool se noodplan te hersien en te verbeter.
Foto: Leerders van Laerskool Koedoeskop geniet ‘n opwindende oomblik by die brandweerwa op die rugbyveld.
