Pikkewynkampvegters trek saam!

Thabazimbi – Met glimlagte, gesiggies vol pikkewyne en heerlike cupcakes het die Ysterberg Voortrekkers op Woensdag 28 Mei 2025 saamgestaan vir ’n oulike, maar ernstige doel: om bewusmaking te skep vir die bedreigde Afrika-pikkewyn. As deel van die Voortrekkers se nasionale Pikkewynkampvegters-projek het kinders ingekleur, gekyk, geleer – en natuurlik, feesgevier.
Die middag was propvol prettige aktiwiteite soos sand-art kaartjies, gesigverf, en ’n opbouende bewaringsvideo. Die hoogtepunt was die trekking van ’n oulike gebreide pikkewyntjie – wat gewen is deur Lucian Booysen. Fondse word steeds ingesamel en sal aan ’n bewaringsorganisasie geskenk word.
“Ons wil kinders leer dat elke klein aksie ’n groot verskil kan maak – selfs al is dit net om ’n cupcake vir ’n pikkewyn te eet,” sê Nelia Pieterse, Ysterberg-offisier en bemarker. Hierdie projek strook met die Voortrekkers se visie om omgewingsbewustheid, verantwoordelikheid en gemeenskapsbetrokkenheid onder jong leiers te kweek.
Hou koers – vir ons toekoms én ons pikkewyne! Meer by:
www.voortrekkers.co.za
Main photo: Van links: Danie Naude (Ysterberg veldkornet), Lucian Booysen (wenner van die trekking), en Nelia Pieterse.
