Community

Juffrou Gerda: Onderwyseres. Vegter. Inspirasie.

24 June 2025 · Platinum Bushvelder

Juffrou Gerda: Onderwyseres. Vegter. Inspirasie.

Thabazimbi – By Laerskool Thabazimbi vertel die gange nie net van spellingtoetse en skoolklokke nie – hulle fluister van jare se liefde, opoffering en ’n vrou met ’n goue hart: Juffrou Gerda Eloff.

Vir meer as vier dekades was sy die stem agter die lesse, die hand agter die troos, en die hart agter honderde jong lewens. Geslagte kinders het onder haar leiding gegroei – insluitend Nola Greyling, wie se twee seuns sy nou ook onderrig. ’n Volsirkel-verhaal, 35 jaar later.

Maar agter die glimlag van hierdie geliefde juffrou skuil ’n verhaal van diep menslikheid. Gerda is nie net ’n onderwyseres nie – sy’s ’n ma, ’n weduwee, en ’n vegter. Ná ’n stryd teen kanker moes haar regterbeen geamputeer word. Met littekens nog vars en liggaamlik broos, het sy in haar rolstoel teruggekeer na die klaskamer – want rekeninge wag nie, en harte soos hare rus nie.

’n Huis vol struikelblokke, ’n lewe sonder kla
Haar huis, nie ontwerp vir ’n rolstoel nie, het ’n daaglikse uitdaging geword. Basiese dinge – soos in die badkamer kom, of teen ’n helling afrol – vra haar daaglikse moed. Tog, gee sy steeds onvoorwaardelik vir haar spesiale dogter, vir haar leerders, en vir almal om haar.

Een ma se droom, ’n gemeenskap se antwoord
Nola Greyling, oud-leerling en nou ouer van Gerda-leerlinge, kon nie stilbly nie. Haar plan was eenvoudig: R10,000 insamel. Genoeg om iets kleins te verander. Maar die gemeenskap het groter gedroom. In net twee maande is meer as R100 000 ingesamel!

“Dis iets wat mens nie net beplan nie,” sê Nola, “Dis iets wat gebeur wanneer mense se harte in pas begin klop.”

Die fondse sal gebruik word om Juffrou Gerda se huis rolstoelvriendelik te maak, haar mediese uitgawes te help dra, en ’n bietjie asemruimte te skep vir iemand wat dit so verdien.

Dankbaarheid stroom oor
In ’n geskrewe brief het Juffrou Gerda gedeel: “My beker loop oor want ek is geseënd deur so baie omgee van mense oral oor. My innige dank aan elkeen se goedhartigheid om my pad te vergemaklik.”

Help ook as jy kan
Elke rand en elke deel van hierdie storie het ’n verskil gemaak – en maak steeds. As jy wil help, kan jy bydra via die BackaBuddy-blad: scan die QR kode! 

Foto: ’n Volsirkel-oomblik: Juffrou Gerda Eloff (links) saam met oud-leerling én huidige ouer Nola Greyling – twee harte verbind deur generasies se liefde en leer.