Headlines

BEK-EN-KLOUSEER

16 January 2026 · Platinum Bushvelder

BEK-EN-KLOUSEER

’n Groot bedreiging vir ons omgewing - mens, dier en ekonomie

Platinum Bushvelder koerant | Matlabas – Bek-en-Klouseer (BKS), ’n hoogs aansteeklike siekte, hou tans ’n ernstige risiko vir die plaaslike gemeenskap sowel as die breër Suid-Afrikaanse landbou-ekonomie in. Die Matlabas-gebied steun sterk op bees-, wild-, en jagbedrywe, met verwante organisasies wat direk afhanklik is van gesonde diere en wettige, verantwoordelike bewegings.

Om die verdere verspreiding van die siekte te beperk en die gebied so lank as moontlik veilig te hou, is ’n omvattende bek-en-klouseer protokol in werking gestel. Doeltreffende beheer berus op streng biosekuriteitsmaatreëls, verantwoordelike dierehantering en die aktiewe samewerking van die hele gemeenskap.

’n Aanmeldbare siekte met verreikende gevolge

Bek-en-Klouseer raak alle gesplete-hoef diere, insluitend beeste, skape, bokke en verskeie wildsoorte. Kenmerkende simptome sluit pynlike sere in die mond en aan die hoewe in. Die siekte is wetlik aanmeldbaar en enige vermoede van ’n geval moet onmiddellik gerapporteer word.

’n Groot risiko met bek-en-klouseer is dat diere in die vroeë stadium van infeksie geen sigbare simptome toon nie. Gedurende die inkubasietydperk van tot 14 dae kan ’n oënskynlik gesonde dier reeds ander diere besmet. Dit is juis in hierdie fase waar permitte verkeerdelik uitgereik kan word. Wanneer ’n geval later bevestig word, lei dit dikwels tot die afdwinging van ’n 10 km-beperkingsone, met ernstige finansiële- en operasionele gevolge vir die hele gebied.

Basiese voorsorg- en biosekuriteitsmaatreëls

Boere en grondeienaars word versoek om toegang tot hul eiendomme streng te beheer. Alle voertuie wat plase binnegaan of verlaat, moet by hekke gesteriliseer word. Funksionele voetbaddens vir besoekers en werkers is noodsaaklik, en slegs goedgekeurde ontsmettingsmiddels soos F10, ACT, Virkon en sitroensuur, moet gebruik word.

’n Besoekersregister by elke hek is verpligtend en voertuie uit besmette gebiede word nie toegelaat nie. Alle plase en diere moet geregistreer wees by Buffalo Analytics (sien inligting by kontakbesonderhede) om doeltreffende naspeurbaarheid te verseker.

Beheer van vee- en wildbewegings

Die invoer van gesplete-hoef diere van buite die Matlabas-gebied word sterk ontmoedig. Waar verskuiwing wel noodsaaklik is, moet alle vereiste permitte vooraf verkry word. Diere mag slegs binne die gebied verskuif word, met geldige permitte en alle bewegings moet tot die minimum beperk word. Enige voertuig wat lewendehawe sonder die korrekte dokumentasie vervoer, moet onmiddellik aangemeld word.

Rapportering is noodsaaklik

Alle verdagte-, onwettige- of hoë risiko lewendehawe bewegings moet sonder versuim by roetekoördineerders, die Matlabas-, Welgevonden- of Palala-beheerkamers, of direk by die aangewese kontakpersoon gerapporteer word. Inligting soos ligging, tyd en rigting van beweging, voertuigregistrasie en -beskrywing asook die tipe- en geskatte aantal diere moet verskaf word om vinnige opvolg moontlik te maak.

Veeartsenykundige vereistes

Streng Veeartsenykundige protokolle geld vir die verskuiwing van diere binne die gebied. Dit sluit in:

  •     Bek- en foto dokumentasie deur ’n bevoegde persoon
  •     ’n Verpligte 14-dae inkubasietydperk met opvolgondersoek
  •     Goedkeuring deur ’n plaaslike veearts en die staatsveearts
  •     ’n Geldige vervoerpermit

Hierdie proses kan elektronies gefasiliteer word, of deur privaat en staatsveeartse hanteer word.

’n Gemeenskap wat saamstaan, bly beskermd

Belanghebbendes word aangemoedig om by die Matlabas bek-en-klouseer WhatsApp-groep aan te sluit. Hierdie groep dien as ’n gesentraliseerde platform vir betroubare, gebiedspesifieke inligting, insluitend opdaterings oor die siekte, voorkomingsmaatreëls en belangrike kennisgewings.

“Die enigste manier om jouself te beveilig, is om jou gemeenskap te beveilig,” beklemtoon die koördineerders. Volgehoue samewerking, waaksaamheid en verantwoordelike optrede bly noodsaaklik om die groter Matlabas-gebied veilig, funksioneel en ekonomies volhoubaar te hou.

 

Kontakbesonderhede vir meer inligting:

  • Skakel in by Matlabas Custodians: 
    Jackie Theunissen – 078 627 7816
  • Buffalo Analytics permitte en administrasie:
    Steffi – 063 798 1587
    Carolien – 079 408 1675
    www.buffalo.vet
  • Bek-en-Klouseer inligting of aanmelding van moontlike gevalle:
    Jou naaste veearts, of Dr. Ampie Viljoen – 083 264 6771
    Dr. Louis Greef – 083 805 8929
  • Anonieme inligting oor onaangemelde gevalle of vervoer sonder permitte:
    Matlabas Beheersentrum – 083 260 0794