Waar sirenes en Kersliggies saamklink

Platinum Bushvelder koerant | Thabazimbi se strate het op 20 Desember 2025 behoorlik geblink en geblom toe Thaba Fire & Rescue hul jaarlikse Kerspatrollie aangepak het – en dit was méér as net ’n rit deur die dorp.
Met noodvoertuie pragtig versier met Kersliggies het die patrollie ’n ware feesatmosfeer geskep en die Kersgees letterlik straat vir straat versprei. Die vrolike liggies en bekende sirenes het inwoners laat uitloer, waai en glimlag – ’n eenvoudige, maar kragtige herinnering aan gemeenskapsgees en samehorigheid.
’n Hoogtepunt van die aand was die besoek aan die plaaslike ouetehuis, waar inwoners die geleentheid saam met die lede van Thaba Fire & Rescue geniet het.
Photo: Een van Thaba Fire & Rescue se noodvoertuie, feestelik opgetower en blink gepoets, gereed om Kersvreugde én veiligheid in die gemeenskap te versprei.
