Schools & sport

Daniëlle sing haar pad na Europa

16 October 2026 · Platinum Bushvelder

Daniëlle sing haar pad na Europa

Platinum Bushvelder koerant | Thabazimbi – Van die skoolbanke tot ’n internasionale verhoog! Daniëlle Fourie van Hoërskool Frikkie Meyer het met haar sangtalent een goue en twee platinumtoekennings by Talent Africa se nasionale rondte verower.

Die nasionale byeenkoms het van 29 September tot 4 Oktober 2026 by die Roodepoort-teater plaasgevind. Talent Africa bied aan deelnemers in verskeie uitvoerende kunste die geleentheid om hul talent op nasionale en internasionale vlak te ontwikkel.

Daniëlle het deur die jaar aan die streeks-, provinsiale en nasionale rondtes deelgeneem. Benewens haar toekennings het sy ook haar nasionale kleure van die Federation of Performing Arts South Africa (FPASA) verwerf.

Nou wink ’n opwindende volgende hoofstuk: sy is gekies vir die Suid-Afrikaanse span wat in 2027 aan die Mediterranean Legends Showcase Competition in Spanje en Frankryk gaan deelneem.

Hoërskool Frikkie Meyer het haar gelukgewens met dié prestasie en haar harde werk, talent en deursettingsvermoë geloof.

Fotobyskrif: Daniëlle Fourie het met een goue en twee platinumtoekennings én FPASA-nasionale kleure geskitter. Sy gaan in 2027 as deel van die Suid-Afrikaanse span haar sangtalent in Spanje en Frankryk ten toon stel.