Tussen wiegeliedjies en woorde: oud-Frikkie publiseer haar eerste boek

Michelle Ainslie Coetzee, ’n oudleerder van Hoërskool Frikkie Meyer, wie se ervaring van nuwe moederskap haar eerste gepubliseerde boek, FORMULA, geïnspireer het.
Platinum Bushvelder koerant | Thabazimbi – Wanneer die huis stil raak en haar tweejarige dogtertjie slaap, kry Michelle Ainslie Coetzee (33) kans om aan haar stories te werk. Juis in die nagtelike ure van nuwe moederskap het die inspirasie vir haar eerste gepubliseerde boek, FORMULA, ontstaan.
Michelle, wat in 2011 aan Hoërskool Frikkie Meyer gematrikuleer het en deesdae in Pretoria woon, se boek is op 2 Oktober 2026 gepubliseer. Dit is ’n besondere mylpaal vir dié oud-Frikkie, wat reeds sedert haar skooldae skryf. Die saadjie vir FORMULA is tydens haar kraamverlof geplant. Gedurende laatnag-borsvoedingsessies het die stilte ruimte geskep vir die vrese, vrae en gedagtes wat met nuwe moederskap gepaardgaan. Hierdie persoonlike ervaring het die grondslag geword van ’n verhaal waaraan sy ongeveer ’n jaar lank gewerk het.
Ook vandag pas Michelle haar skryfwerk tussen gesins- en werksverpligtinge in. Nadat haar dogtertjie saans in die bed is, keer sy terug na haar woorde om verder te skryf en aan haar verhale te skaaf.
Hoewel FORMULA haar publikasiedebuut is, is dit nie haar eerste manuskrip nie. Michelle het reeds vier boeke geskryf. Die ander drie wag voorlopig op die rak terwyl sy besluit of hulle ook gereed is om met lesers gedeel te word. Een daarvan het ’n besonder lang pad saam met haar gestap: die heel eerste boek wat sy op 17-jarige ouderdom geskryf het. Sy werk tans daaraan om dié verhaal met ’n vars perspektief oor te skryf en hoop om dit binne ongeveer ’n jaar aan lesers bekend te stel.
Buiten haar skryfwerk het Michelle ’n loopbaan in die langtermynversekeringsbedryf. Sy het tien jaar lank as spanleier by Platinum Life gewerk voordat sy na ’n ander afdeling binne dieselfde maatskappy verskuif het. Sy is al sowat ses jaar getroud en geniet die lewe saam met haar gesin.
Sedert sy publikasie het FORMULA reeds lesers deur verskeie platforms bereik. Die boek is onder meer op Takealot en Amazon beskikbaar.
Vir Michelle het ’n nuwe hoofstuk as ma ook ’n nuwe hoofstuk as skrywer oopgemaak. Die gedagtes wat eens in die stilte van die nag by haar opgekom het, het nou ’n plek op lesers se boekrakke.

