Help TAR se kosbakkies vol hou

Klein pootjies, groot behoefte: Van die honde onder TAR se sorg.
Platinum Bushvelder koerant | Thabazimbi – Hulle is nog klein, maar hul behoeftes is groot. ’n Toename in hondjies en katjies het Thabazimbi Animal Rescue (TAR) se kosvoorraad en versorgingsbegroting onder druk geplaas. Nou vra die organisasie die gemeenskap om ’n helpende hand.
Volgens Tania Stone het verskeie honde en katte dragtig by TAR aangekom, terwyl ander reeds hul werpsels by hulle gehad het. Sowat 30 ma-diere en kleintjies word op haar plot gehuisves, apart van die 50 honde wat tans in 40 kennels is, om die risiko van aansteeklike siektes te beperk.
Die kennels (hondehokke) alleen gebruik tussen 20 en 25 kg hondekos per dag. Kos vir hondjies en katjies is veral nodig, saam met katsand, plastiekbakkies en inkopiesakke. Die kleintjies moet ook ingeënt en ontwurm word, en alle diere benodig behandeling teen bosluise en vlooie.
“Ons is nie kieskeurig oor die soort kos nie, maar hondjie- en katjiekos is op die oomblik baie nodig,” sê Tania.
Skenkings wat reeds ontvang is, behoort TAR deur die volgende maand te help. Die naderende feestyd, wanneer meer diere kan wegraak of agtergelaat word, bly egter ’n bekommernis. Gereelde maandelikse bydraes – selfs ’n klein pakkie kos – kan help om voorraad op te bou.
Só kan jy help:
• Lewer dierekos by plaaslike veeartse af. Kransberg Dierekliniek het ’n skenkingskrat.
• Dra by tot TAR se rekening by Pets Corner – selfs R10 of R50 help.
• Koop kos by Wes Voere, Obaro, West Pack of Crazy Pets en WhatsApp die strokie aan Tania sodat TAR afhaalreëlings kan tref.
• Skenk geld vir kos of mediese sorg. Gebruik “Kos Skenking” as verwysing wanneer jou bydrae vir kos bedoel is, of gebruik TAR se gemerkte geldblikkies by deelnemende winkels.
• Skenk bruikbare items aan TAR se liefdadigheidswinkel. Die opbrengs help om veeartskoste te betaal.
TAR herinner eienaars ook om ’n kontaknommer aan hul diere se halsbande aan te bring en oppassers te vra om TAR dadelik te kontak indien ’n dier wegraak. Tania beklemtoon die belangrikheid van sterilisasie en dat eienaars inentings en versorging moet kan bekostig. Volgens haar is katgriep weer ’n probleem in die dorp.
Elke dier wat deur TAR aangeneem word, word ten volle ingeënt, ontwurm en gesteriliseer.
Vir dié klein pootjies beteken jou bydrae ’n vol magie en die sorg wat hulle nodig het om groot te word. Kontak Tania Stone by 084 885 6487 om te help.



