Ou boekblaaie vertel ’n nuwe Kersverhaal

Die NHSV-susters van Thabazimbi-Vliegpoort spog met hul handgemaakte Kersversierings ná ’n gesellige oggend van kreatiwiteit.
Platinum Bushvelder koerant | Thabazimbi – Ou boeke wat nie kopers by die Apiesdoring-karnaval gelok het nie, het op Dinsdag 20 Oktober 2026 ’n nuwe hoofstuk beleef toe die NHSV-susters van die Hervormde Kerk Thabazimbi-Vliegpoort hul bladsye in pragtige Kersversierings omskep het.
Michelle Linde, eggenote van ds. Hennie Linde, het die gesellige byeenkoms vir die Nederduitsch Hervormde Susters Vereniging (NHSV) aangebied. Die dames kon hul kreatiwiteit uitleef en terselfdertyd bekostigbare idees vir die feestyd opdoen.
Die boodskap van die dag was eenvoudig: ’n mens hoef nie ’n kunstenaar te wees om iets besonders te skep nie. Met ’n tak, ’n paar ou boekblaaie en ’n bietjie verbeelding kan alledaagse materiaal ’n feestelike gedaante kry. “Die dames het geleer dat ’n mens nie kunstig hoef te wees om hierdie versierings te maak nie. Dit is maklik!” het Michelle vertel.
Volgens haar bied dié handwerk ook ’n uitkoms wanneer winkelversierings die sak knyp. “Met Kersversierings wat so duur in die winkels is, het hulle gesien dat ’n mens met net ’n tak en ’n paar bladsye papier, sonder om ’n sent uit te gee, ’n pragtige Kersversiering vir jou gesin kan maak.”

