Groot sakke, blink oë en nuwe hengelrekords

Yolanda Erasmus het die swaarste sak ingeweeg, met ’n totale vangsgewig van 48,47 kg.
Platinum Bushvelder koerant | Thabazimbi – Die lyne was styf en die opwinding groot toe Thabazimbi Hengelklub se lede op 24 en 25 Oktober 2026 hul geluk tydens ’n oornag-hengelkompetisie by ’n plaasdam beproef het. Goeie vangste en nuwe persoonlike bestes het gesorg dat dié naweek nog lank om die viswaters onthou sal word.
Yolanda Erasmus het eerste geëindig in die afdeling vir die swaarste sak, met ’n totale vangsgewig van 48,47 kg. Andrew Stander was tweede met 45,76 kg, gevolg deur André Coetzee met 37,33 kg.
Die jong hengelaars het ook gewys dat groot vangste nie net vir die grootmense beskore is nie. Liane du Plessis het haar persoonlike beste verbeter met ’n karp van 5,72 kg, terwyl Ruben du Plessis ’n mooi karp van 5,45 kg geland het. Johan du Preez het met sy karpie van 1,03 kg ook in die hengelpret gedeel.
Aiden Coetzee het op sy beurt ’n stewige karp van 5,40 kg uitgetrek. Hoewel dit nie sy persoonlike beste was nie, was daar oorgenoeg rede vir ’n breë glimlag.
Tussen die inkatrol en opweeg was daar volop tyd vir saamkuier en die deel van hengelstories. Die naweek het gewys dat die lekkerste herinneringe soms saam met ’n vis aan die lyn begin.
Belangstellendes wat by die klub wil aansluit, kan voorsitter Rassie Erasmus by 072 456 8411 of sekretaresse Janine Koekemoer by 081 715 9835 kontak.






