Crime & safety

Gewapende roof by Kransberg Petroleum

13 April 2018 · Platinum Bushvelder

Gewapende roof by Kransberg Petroleum

Thabazimbi – Soos enige ander dag het Santie Pelser, ‘n kassier by Kransberg Petroleum depot, vroegdag die hek van die winkel oopgesluit op Saterdag, 31 Maart... en die roetine van die dag is begin. 


Vier gewapende mans het op die depot toegesak. 

In ‘n onderhoud met die Platinum Bushvelder koerant vertel Ben Khumalo, een van hul petroljoggies: “’n Man het my genader en gevra om sy twee liter bottel vol te maak met diesel. Ek was besig om ‘n bak te was en hom gevra dat hy my ‘n oomblik gee. Hy het weggestap en minute later teruggekeer... die keer gewapen. Hy het ‘n pistool op my gerig.”

Ben is aangesê om na die kantoor te beweeg en het dadelik toegegee. 


“Twee van my kollegas het op die vloer gelê en ek is aangesê om dieselfde te doen. Ons hande is toe vasgebind met cable ties. Daarna het die aanvallers Santie in een van die kantore ingedwing. 


Madia du Plessis, bestuurder van Kransberg Petroleum depot, sê: “Die verdagtes het Santie toegesnou om die kluis oop te sluit. ‘n Onbekende bedrag kontant is gebuit waarna een van die aanvallers Santie geslaan het met die kolf van die pistool.” 
Volgens luitenant kolonel Ngoepe, polisiewoordvoerder, het die verdagtes Santie met haar lewe gedreig. 
Nadat die verdagtes gevlug het, is die polisie ontbied. Die polisie, Henk Havenga en Thaba Alarms het onmiddellik bystand gelewer. Die ondersoek duur voort. 

Ben Khumalo, een van Kransberg Petroleum depot se petroljoggies