Uitstappie na die Wimpy!

Thabazimbi – Bethlehem Feed The Poor het op Maandag 5 Maart en op 12 Maart onderskeidelik 40 minderbevoorregte kindertjies uitgevat op ‘n heerlike uitstappie na die Thabazimbi Wimpy. Alhoewel dit vir baie bevoorregte kinders nie eers sou geld as ‘n uitstappie nie, was hierdie ondervinding vir baie van die kinders ‘n eerste belewenis.
Hierdie twee van drie uitstappies was moontlik gemaak deur ‘n donasie van WestPack Thabazimbi. Die derde uitstappie word nog beplan vir kinders wat nie die Wimpy uitstappie kon bywoon nie. Die kinders was in groepe ingedeel en Thaba Trans het hul bus sowel as hul tyd gratis beskikbaar gestel om die kinders vanaf Bethlehem huis na die Wimpy te vervoer en weer veilig terug te neem. Die kinders het die busrit asook die Wimpy uitstappie vreeslik geniet.
Caroline is nie net die kok by Bethlehem huis nie, maar vir baie kinders is sy ook ‘n mamma hen:
“Ons hartlike dank aan WestPack Thabazimbi, Thaba Trans, Wimpy Thabazimbi asook Ons Hemelse Vader vir die geleentheid om hierdie minderbevoorregte kinders te kon seën en ‘n breë glimlag op hul gesiggies te kon sit.”
Bethlehem is ‘n huis en heenkome sowat 3km uit op die Lephalapad wat daagliks 100 tot 150 kinders voed. Pick n Pay Thabazimbi gee ook bykans daagliks vir hul brood wat dan ook saam met die sop en pap vir die kinders gegee word.
Daar ontvang die kinders kos, liefde en ook die Woord van God.
Vroeg in Januarie 2018 het ‘n vriendin van Bethlehem-huis ‘n prys by WestPack gewen en kon sy ‘n NGO nomineer. Sy het dadelik Bethlehem gekies aangesien hulle so na aan haar hart lê.
Enigeen wat ‘n donasie wil maak is welkom om hulle te skakel by
082-893 4208.
Hulle benodig altyd vleis, mieliemeel, groente, rys, enige voedsel produkte, skoonmaakmiddels, toiletware, klere en komberse. Hul benodig ook hulp met die Woord bediening asook interaksie met die kinders.
