Schools & sport

Rugby Kampioenskapsreeks 2017

25 August 2017 · Platinum Bushvelder

Rugby Kampioenskapsreeks 2017

Australië vs Nieu-Seeland

In Sydney verander die Aussies se drome in ‘n woeste nagmerrie ou groene! Die All Blacks was verwoestend en loop met rustyd 40-6 voor. Die Aussies het egter in die tweede helfte ‘n bietjie tot verhaal gekom maar verloor 54-34. 

Michael Hooper, nuutverkose cappie van die Aussies was baie bly oor die vier drieë wat hulle in die tweede helfte kon druk. Nou ou groene, die All Blacks is ligjare voor die res want as ‘n Aussie bly is om nie so ver te verloor nie... moet ‘n mens opnuut besef hoe goed die All Blacks regtig is! Hoe die Aussies geslaap gekry het sal net hulle weet, want hulle draf weer die naweek op teen die All Blacks op tuisbodem... eina!

SA vs Argentinië
In PE slaag die Bokke daarin om die Pumas 37-15 te klop. Die Bokke se skrumwerk was puik en het die Pumas gedruk dat hulle knor ou groene. Die Bokke het egter baie gesukkel om oor die voordeellyn te kom en sal meer met bal in hand moet vermag as hulle daaraan dink om die toernooi te wil wen. Coenie Oosthuizen het op vasskop skitterend gespeel. Agterlangs het Jan Serfontein baie skerp gelyk. Die Bokke reis nou Salta toe om die Argentyne in hulle agterplaas te gaan uitdraf. Dit gaan ‘n groot toets wees vir Bok se kind.

** Die Platinum Weekly sport redaksie wil net ook hulde bring aan een van die grootste spelers en mens, die legendariese All Black Sir Colin Meads, wat op die ouderdom van 81 jaar oorlede is.
 

Curriebeker 2017

 

Blou Bulle vs Vrystaat Cheetahs
Op Fort Loftus verloor die Bulle 41-40 in ‘n spannende game ou grote. Die Vrystaat blits vleuel het geskitter in die game met drie drieë wat die wendrie in die doodsnikke insluit. Die Bulle se coach Nollis Marais is met permanente verlof verlos en die All Black vuurvreter coach, John Mitchell, is nou aan die stuur van die Bulle. Die Bulle se volgende game is teen die Pumas in Nelspruit met die Cheetahs wat in Bloem teen die Goue Leeus speel.

WP vs Goue Leeus
Die Leeus se treurmare duur ook voort en verloor teen die WP op Nuweland 39-3. Die Leeus is die kluts skoon kwyt en vir die gewese Blou Bul Victor Matfield, wat nou ‘n coach is, wag daar harde werk ou grote. Die WP speel volgende teen die Haaie in Kaapstad met die Leeus wat Bloem toe reis om teen die Cheetahs uit te draf.

Griekwas vs Pumas
In Kimberley word die Griekwas se partytjie bederf met die Pumas wat ander planne gehad het ou grote. Die Pumas wen welverdiend 27-21. Die Griekwa coach was baie teleurgesteld met sy span se vertoning maar sal sy spelers moet leer om elke game met dieselfde erns aan te pak. In díe reeks is daar nie meer maklike spanne nie. Die Griekwas het volgende ‘n loslootjie met die Pumas wat in Nelspruit teen die Bulle uitdraf.

Nag ou grote…