BEVEILIG JOUSELF!

Northam – Op Saterdag, 21 April, en weer op Saterdag en Sondag, 4-5 Mei, het die Northam Boerevereniging vir Glenn Mortelmans, ‘n Krav Maga veginstrukteur, genooi om ‘n gratis bewusmaking- en veiligheidskursus vir die gemeenskap aan te bied.
Glenn is al 17 jaar aktief betrokke by Krav Maga opleiding nadat hy self in Israel, Poolland en Brittanje opleiding ontvang het. Hy word as een van die top instrukteurs ter wêreld beskou.
Glenn is die stigter van Krav Defence Systems en KM-TU (Krav Maga Tactical Unit) en bied selfverdediging- en taktiese opleiding, regoor die land aan.
Krav Maga, ‘kontak bestryding’ in Hebreeus, is taktiese vegtegnieke wat ontwikkel is deur die Israeli weermag en bestaan uit ‘n kombinasie van die gevaarlikste tegnieke geneem uit boks, stoei, aikido, judo, karate en realistiese straatgevegte. Díe vegtegniek is ontwikkel om effektief te wees teen enige aanvaller.
Die groep deelnemers is geleer hoe om hulself te verdedig, veral met skerp voorwerpe.
“Die hoeveelheid deelnemers uit die direkte omgewing was skokkend! Baie mense van verder weg het kom leer, maar slegs ‘n handjie vol van díe gemeenskap,” het Glenn aan die Platinum Bushvelder vertel. “Veral as jy in ag neem dat daar talle aanvalle onlangs plaasgevind het. Ongeveer 7-8 gewapende verdagtes het verlede week op ‘n plaas te Koedoeskop toegeslaan, op 1 Mei. Dan was daar die plaasaanval te Rankingspas op 3 Mei.”
Prof Erasmus, voorsitter van die Northam Boerevereniging het ook tydens die geleentheid namens die Northam gemeenskap ‘n donasie aan die HPG (Heritage Protection Group) oorhandig. HPG monitor alle omliggende gebiede om Northam, 24 uur en 7 dae ‘n week, en monitor baie van die gebiede op eie onkoste.
Danksy positiewe samewerking tussen HPG, boere en omliggende gemeenskappe, is hulle gereeld van die eerste reaksie spanne. Prof Erasmus het tydens die geleentheid weereens klem gelê op die feit dat ons as die Northam gemeenskap mekaar moet ondersteun: “In enige situasie, van hartaanval tot ‘n plaasaanval, is die reaksie tyd die verskil tussen lewe en dood.”
Johan Young, kommunikasie bevelvoerder vir HPG in die Northam Area, het ook benadruk hoe belangrik die Krav Maga opleiding vir almal is. “Ons sal ook ons wapen opleiding moet opskerp en almal moet radio’s kry sodat daar dadelik gekommunikeer kan word. Soos julle weet het ons ook WhatsApp groepe wat ook baie help.” Vir verdere inligting skakel Johan Young by 083-998 2593.
“Ons het gedink ons weet alles, maar na hierdie naweek het ons agtergekom hoe min ons werklik weet! Ons is regtig bly ons het hierdie kursus bygewoon en sal dit vir enige iemand aanbeveel!” vertel Paul en Elizna Grobler aan Platinum Bushvelder. “Ons het ‘n paar blou kolle op plekke wat ek al vergeet het ek het, maar dit is die moeite werd!” sê Johan Young.
Moenie die volgende opleidingskursus misloop nie! Bespreek so gou as moontlik; slegs ‘n beperkte hoeveelheid mense kan gehelp word. Die volgende kursus vind plaas op 17 Junie en beloop R1000 per persoon. Vir verdere inligting skakel Johan Young by 083-998 2593.
KERN PUNTE VIR PLAAS/ SELF VERDEDIGING
Stap 1: Moenie verskonings maak nie, word nou opgelei! Dertig jaar terug se weermag opleiding is ook nie genoeg nie. Kan jy wel onthou hoe dit in jou ingedril was?
Stap 2: Dink soos ‘n skelm! Kyk maar weer na jou plaas, plot of huis, maar kyk daarna deur die oë van ‘n potensiëel boosdoener. Waar sal jy inkom? Waar sal jy wegkruip? Hoe sal jy op die gesin toeslaan? En dan as jy weet waar jou grootste swakpunte is, maak werk daarvan! Of dit nou meen om spreiligte te installeer, jou skoonma se rooibos af te kap of diefwering op die badkamer venster te sit.
Stap3: Doen dit vandag! Noudat jy jou swakpunte sien, maak werk daarvan, vandag nog! Van uitstel kom afstel. Skelms gaan nie vir jou kans gee en wag totdat jy eendag die diefwering opsit voordat hulle toeslaan nie.
Stap 4: Besluit om positief te wees en oefen sodat dit tweede natuur word vir jou en jou gesin om te weet presies wat om te doen in tyd van nood. Laat elke lid van jou gesin weet presies wat hulle moet doen, selfs die kleinding moet weet waar om weg te kruip en stil te wees. Oefen die dril in!
