Hennie Botes sterf net voor sy 90ste verjaardag

Thabazimbi – Hennie het as jongman in Thabazimbi aangekom. Hy het ‘n nooientjie hier ontmoet en met sy fiets die Kransberge uitgery om vir haar te gaan kuier. Hennie is toe later met hierdie nooientjie, Suzie Botes, getroud.
Hennie en Suzie het 68 wonderlike jare saam spandeer. Hierdie twee mense het omtrent 30 jaar in Thabazimbi gewoon waar hulle kroos van vyf gebore is.
Hennie was baie lief vir die Hervormde Kerk, hy het elke jaar by die Apiesdoring Karnaval gewerk. Sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie; hy was altyd en enige tyd beskikbaar om ‘n werkie te verrig vir sy geliefde gemeente.
Hennie laat sy vrou Suzie Botes, vyf kinders, tien kleinkinders en 18 agterkleinkinders agter.
Hennie se begrafnis vind Vrydag plaas vanuit die Hervormde Kerk in Thabazimbi om 11h00.
“Jy was ‘n wonderlike man, pa oupa en oupagroot. Ons gaan jou mis Hennie!” sê ‘n familielid.
Die Platinum Bushvelder koerant wil graag hul medelye tenoor Hennie se familie en vriende uitspreek.
