Eiendomsbelasting op landbougrond: Thabazimbi Munisipaliteit

Thabazimbi – Die Thabazimbi Distrik Landbou–unie beveel aan dat die eiendomsbelasting op Landbougrond soos deur die Thabazimbi Munisipaliteit gehef word vir die eiendomsbelastingperiode wat strek vanaf 1 Julie 2017 tot en met 30 Junie 2018, deur grondeienaars betaal word.
Die verhoging in eiendomsbelasting is binne die grense soos ooreengekom met Munisipale verteenwoordigers, deur ‘n afvaardiging wat van die landbou liggame binne die munisipale gebied verteenwoordig het in Julie 2016. Die verhoging vir die periode is 45% laer as die 2016/17 belastingperiode en verteenwoordig ‘n verhoging van 22% gemeet aan die belasting wat betaalbaar was in die 2014/15 belastingperiode.
Grondeienaars word net weereens daaraan herinner dat die betaling van eiendomsbelasting nie ‘n heffing is nie, maar ‘n belasting net soos persoonlike belasting en wan-betaling kan dus nie verjaar nie. Daar moet ook gelet word dat indien ‘n eiendomsbelasting rekening nie ontvang word nie, plaas die wet die verpligting op die grondeienaar om die nodige reëlings te tref, sodat ‘n rekening deur die munisipaliteit voorsien kan word.
Landbougrond eienaars moet kennis neem dat die dispuut in die betaling van eiendomsbelasting, soos verklaar is deur die Thabazimbi Distrik Landbou-unie, in konsultasie met die Thabazimbi Voorsitters Forum in Augustus 2015 nog steeds van krag is vir die eiendomsbelasting periodes 2015/16 en 2016/17.
Wetgewing verseker dat geen regstappe deur die munisipaliteit afgedwing kan word, tensy die dispuut tussen die partye opgelos is nie.
Die dispuut het ontstaan deurdat die belasting op landbougrond vir die belastingperiode 2015/16 met 112% verhoog was. Die verhoging was buitensporig en nie binne die riglyne daar gestel deur die Departement van Finansies nie. Hierdie verhoging was hoofsaaklik veroorsaak deur die rebat wat Landbou ontvang vanaf 75% na 50% te verminder.
Dieselfde beginsel was toegepas tydens die 2016/17 begroting en het tot gevolg gehad dat, gemeet aan die 2014/15 belasting periode, die verhoging 125% beloop het (wat jaar op jaar slegs 6 persent moet beloop).
Sedert die datum van dispuutverklaring is vele pogings aangewend om die dispuut op te los, sonder sukses. Die hoofsaaklike rede hiervoor is dat daar vyf verskillende waarnemende munisipale bestuurders aangestel is vandat die munisipaliteit onder geregtelike bestuur geplaas is, oor hierdie periode. Die situasie het veroorsaak dat geen vordering gemaak is met onderhandelings nie.
In Julie 2016 het ‘n vergadering plaasgevind waar ‘n afvaardiging van Thabazimbi Distrik Landbou-unie, Cumberland Gemeenskap Forum, Makoppa Boerevereniging, WRSA en munisipale amptenare teenwoordig was. Tydens die vergadering het die afgevaardigdes ooreengekom dat die eiendomsbelasting dispuut opgehef sal word, indien die belastingtarief nie meer as 9% verhoog word nie en die rebat vanaf 50% na 75% verhoog.
Met die daarstelling van die konsep munisipale begroting vir 2017/18 in April 2017, het die begroting nie die ooreengekome beginsels gereflekteer nie. Die Thabazimbi Voorsitters Forum het beswaar hierteen gemaak. Die beswaar is positief aanvaar en die munisipale begroting vir die 2017/18 periode is daarna aangepas in lyn met die bogemelde ooreenkoms. Die begroting is toe finaal goedgekeur deur die Munisipale Raad vir implementering.
Hierdie Raadsgoedkeuring het tot gevolg dat landbougrondeienaars die morele verpligting het om die belasting soos gehef vir die 2017/18 te betaal. Daar moet gelet word dat vir 2015/16 en 2016/17, die dispuut nog steeds in plek is en verdere onderhandelings weereens sal plaasvind sodra daar
‘n permanente munisipale bestuurder aangestel is deur die munisipaliteit.
J C Viljoen, voorsitter van die Thabazimbi Distrik Landbou-unie, persverklaring, 21 Augustus 2017
Ons neem met genoeë kennis van hierdie persvrystelling van die TLU en te danke aan harde werk en goeie samewerking tussen die verskillende partye is hierdie aangeleentheid nou opgelos. Ons is reeds besig om die vorige dispute aan te spreek en dienooreenkomstig met die TLU te onderhandel in hierdie verband. Die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit is onder enorme finansiële druk en hanteer daagliks massiewe uitdagings wat as gevolg van vorige wanbestuur hulle paaie kruis en dus moet elke moontlike sent wat uitstaande is so spoedig moontlik ingevorder word sodat die dorp weer kan begin werk.
Dr LH Joubert, speaker, Thabazimbi Munisipaliteit
