Só lyk die program - THABAZIMBI APIESDORING KARNAVAL

Thabazimbi – Met vleis en biltong pryse uit toeka se dae staan die rye vir díe winskopies by die Apiesdoring Karnaval al van voor 6vm Saterdagoggend. Warm koffie en pannekoek sal dan al bedien word vir die vroeë toustaners.
Die karnaval is ‘n geloofsaksie uit dankbaarheid vir die Here se sorg en genade. Daarom word met skriflesing en gebed geopen so by 7:30vm. Vanaf 8vm open die stalletjies vir verkope. Ontbyte in die vorm van pap en kaiings, pap en wildslewer ensovoorts sal dan bedien word.
Die program op die verhoog skop DV 10vm af met die lawwe Piet Pompies se optrede. Net daarna, om 11vm kan diegene wat wil meeding om ‘n Lister engine na te maak, nader staan. Johan Oosthuizen het gereël dat besoekers eers sal sien en hoor hoe ‘n regte Lister engine daar ge-start word. Almal sal dus eers na die ware Jakob kan luister.
Van 12nm af is dit veiling. Net so 35 items word opgeveil – alles skenkings van lidmate en vriende van die gemeente Vliegepoort. Met die vrolike gees van die karnaval en Jan Smit as afslaer, is die veiling sommer deel van die vermaak.
Die hoogtepunt is wanneer Steve Hofmeyr aan die beurt kom teen so 1:30nm. En net na Steve se optrede word die wenners getrek van al die kompetisies.
Vir meer inligting van die karnaval op Thabazimbi kyk by www.apiesdoringkarnaval.co.za. Die karnaval vind plaas DV Saterdag 5 Augustus by die Hervormde kerk net buite die dorp. Vir navrae kontak die voorsitter, Izak Joubert, by 083-488 6357 of Hennie vd Linde by 083-507 0335.
