ATKV THABAZIMBI BEPLAN WYD VIR 2018/19

Thabazimbi – Buiten Afrikaans moedertaalsprekers, is daar nog 10 ander taal en kultuurgroepe in ons land.
Die ATKV se hoofdoel is om die Afrikaanse taal en kultuur onbeskaamd en daadkragtig te bevorder. Vandaar sy naam: Afrikaanse Taal en Kultuurvereniging (ATKV).
Dit is egter nie ons énigste doel nie, want ons is ook uitgesproke ondersteuners en helpers vir elkeen van die ander 10 taal en kultuurgroepe in ons land. Die spreekwoord lui nie verniet nie: “Doen aan ander wat jy graag ook aan jouself gedoen wil hê”.
Daarom wil die ATKV Thabazimbi in die termyn wat voor ons lê, al die aandag toespits op die twee hoofgroep moedertaalsprekers in ons omgewing; te wete Afrikaans 7.5% asook Setswana 65.43%.
Omdat kennis van mekaar se tale en kulture mense makliker na mekaar as mens tot mens laat beweeg, is daar talle van ons geslaagde Afrikaanse aksies wat ons plaaslike ATKV reeds en steeds gaan doen, wat ons ook aan die plaaslike Setswana taal en kultuurgroep beskikbaar wil stel, byvoorbeeld:
Skouerbande vir vir toppresteerder leerders in moedertaal-as-vak vanaf grade 8 tot 12 wat as meneer en mejuffrou Afrikaans tydens saal openings gedra word, en wat ook na ons buurskole as meneer en mejuffrou Setswana uitgebrei kan word; en
Ons uiters geslaagde poësie skryf kompetisie vir leerders asook volwassenes, wat ook na ons Setswana bure uitgebrei kan word.
Ons benodig die innoverende denke van werklike belangstellendes. Die vergader datum waarop u kan aansluit en deel word van hierdie projekte word vir vroegsomer bepaal en sal vroegtydig bekend gemaak word.
Hou hierdie spasie dop! Kultuur bly die teenoorgestelde van politiek en kry reg wat politici nooit sal kan regkry nie!
Om persoonlik uitgenooi te word, kontak ons sekretaresse Linda Grobler by 073-467 2185 of grobler.linda@gmail.com, of kontak dominee Dirk Laufs, voorsitter van ATKV Thabazimbi, by 082-675 2076 of dlaufs@lantic.net.
