Maak díe Verskil-vrouekampe

Die Maak Díe Verskil-kampe het ‘n kamp tussen 18-20 Augustus by die Chrisma Lodge te Witbank aangebied met die tema “Liefde is...”. Maak Díe Verskil -kampe is nie ‘n kerk of denominasie nie en reik oor kerkgrense. Elke kamp het ‘n unieke tema – dus is elke kamp uniek.
Die kamp te Chrisma Lodge is bygewoon deur bykans 28 vroue vanuit verskillende stede. Die kamp te Shekinah, Rooiberg-area is bygewoon deur 24 vroue vanuit verskillende stede. Die tema was ‘Deep calls to Deep’.
Een vroutjie het die Platinum Bushvelder koerant se berig raakgesien die Vrydagoggend terwyl sy haar motor gewas het. Oppad het haar motor se wiel ‘n klip getref en die wielsleutel het ‘gestrip’, maar God was in beheer en net na 18h00 het sy, begelei deur twee gawe boere, by die kamp aangekom.
Maak Díe Verskil-kampe bied jaarliks vier vrouekampe aan. “Ons hart is egter om veral in die platteland ook kampe aan te bied, aangesien die geleenthede soms beperk is,” sê Torien Pieters, een van die kampleiers.
“Die temas van die kampe is nooit dieselfde nie. Die Here gee vir ons die tema, en ons nooi sprekers wat ons weet die vroue mee sal vereenselwig – vroue wat ‘n passie het om vroue in oorwinning te sien leef. Hulle moet Hom self vertrou vir die boodskap vir die groepie vroue wat Hy stuur. Elke kamp is ons verstom om te sien hoe die vroue presies ontvang volgens die behoeftes in hul harte. Lewens word kamp na kamp verander en vernuwe!”
“Die hoogtepunt van elke kamp vir my as leier, is om die verskil op vroue se gesigte (nie grimering nie) te sien vanaf ‘n Vrydagaand – wanneer hulle moeg en oorlaai daar aankom – tot ‘n Sondagoggend. Om te sien dat hulle hul waarde in Christus besef het en keuses gemaak het om saam met die Here, díe verskil in ander se lewens, en vir Sy koninkryk te maak. Kosbare nuwe vriendskappe word gevorm omdat ons nie massa-kampe het nie. Die klein groepe laat die vrouens tuis en gemaklik voel. Die kampe word afgesluit met die Kruis wat gelig word in ‘n lied. Die vrouens kom spontaan uit en die eenheid is aangrypend.”
Die volgende kamp is van 13-15 Oktober te Bergsig Tabernakel, Kameeldrif-Wes, Pretoria.
Kontak gerus vir Torien Pieters by 082-441 9177 of stuur ‘n e-pos aan: mdvkampe@gmail.com.
Besoek gerus ook hul webtuiste: www.maakdieverskil.co.za.
